Kanker hou jou op jou knieë – Horn

Hoewel Andre Horn (46) Vrydag na ‘n moeilike kankerpad van 16 maande oorlede is, het hy deurgans dapper positief gebly en selfs ander in dieselfde bootjie bemoedig omdat hy geglo het “kanker is nie ‘n doodsvonnis nie, dit hou jou op jou knieë om nader aan God te kom.” Sedert hy in Augustus 2015 die …

Hoewel Andre Horn (46) Vrydag na ‘n moeilike kankerpad van 16 maande oorlede is, het hy deurgans dapper positief gebly en selfs ander in dieselfde bootjie bemoedig omdat hy geglo het “kanker is nie ‘n doodsvonnis nie, dit hou jou op jou knieë om nader aan God te kom.”
Sedert hy in Augustus 2015 die slegte nuus van ‘n gastroloog in Pretoria ontvang het dat hy pankreaskanker het en ‘n operasie, chemoterapie en bestraling gevolg het, het hy onwrikbaar bly glo dat hy gesond sal word. Selfs ten spyte van die nuus dat die kanker versprei het.
“Andre was my lewe, beste maat en steunpilaar wat my moed ingepraat het as ék moedeloos geword het. Ek het baie by hom geleer en sal die vyf jaar wat ons saam was altyd koester,” het ‘n hartseer Sue-Mari, sy vrou, Maandag aan Polokwane Observer gesê.
Tiaan Horn, Andre se broer sê: “Ek is dankbaar dat ek 46 jaar van my lewe met hom kon deel en dat hy altyd daar was as ek hom nodig gehad het. Niks was ooit vir hom te veel moeite nie. Ek gaan hom en ons lang kuiers langs die viswaters baie mis.”
Andre was ‘n oudpolisieman en bekende sakeman in die insleepdiensbedryf, maar sy groot liefde was motorsport en visvang. Hy was ‘n geliefde lid van die Polokwane-motorsportgemeenskap wat in 2007 kompeterend begin deelneem het in die V8-enjinklas waarin hy in 2010 Suid-Afrikaanse status behaal het. In 2011 het een van sy groot drome waar geword toe hy ‘n pypkar aangeskaf het waarmee hy sy teenstanders aangedurf het en meestal die beste daarvan afgekom het.
Sy vriende sonder sy veggees, nimmereindigende hoop, sterk geloof en humorsin uit.
Die begrafnis vind vandag (Donderdag) om 11:00 vanuit die Agapé Christengemeente in Kiddsstraat (oorkant Retsini Kwekery) plaas.
Benewens Sue-Mari en Tiaan word Andre deur sy kinders, Armand, Vian, Carla en Jandre en sy ouers, Tommie en Wilna oorleef.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Hooffoto: Andre Horn is Vrydag oorlede. (Foto: Eugene Botes)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version