Berugte broers, meeloper stroop glo ook in Polokwane Wildreservaat

Deon en Nick van Deventer en Onwand Muchagowa wat Maan­dag in die Makhado Landdroshof in Louis Trichardt vir beweerde renosterstroping verskyn het, word volgens die polisie ook met die voorval in die Polokwane Wild­reservaat verbind. Provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo sê die trio het Maandag in die hof verskyn waarna die saak tot Woensdag …

Deon en Nick van Deventer en Onwand Muchagowa wat Maan­dag in die Makhado Landdroshof in Louis Trichardt vir beweerde renosterstroping verskyn het, word volgens die polisie ook met die voorval in die Polokwane Wild­reservaat verbind.
Provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo sê die trio het Maandag in die hof verskyn waarna die saak tot Woensdag vir verdere ondersoek uitgestel is terwyl hul in aanhou­ding bly.
“Ons kan bevestig dat al drie met die stroping van ‘n renosterkoei en -kalf op ‘n plaas in die Witpoort-distrik sowel as die voorval waar ‘n renoster Desember in die Polokwane Wild­reservaat geskiet en onthoring is, verbind word.”
Die renoster in die Polokwane Wildreservaat wat op Oujaarsdag deur ‘n besoeker gevind is, is sowat vyf maande gelede as voorsorg teen stroping onthoring, maar selfs die stompie is deur die stropers afgekap.
Die Van Deventer-broers en Muchagowa is verlede week buite Louis Trichardt aangekeer nadat hulle vermoedelik ‘n renosterho­ring wou verkoop.
Mojapelo sê lede van die polisie se bedreigde spesie-eenheid op Louis Trichardt het inligting oor verdagtes wat vermoedelik ‘n renosterhoring wil verkoop, ontvang en dadelik ‘n soektog na die verdagte voertuig geloods.
“Toe die verdagtes besef hulle word agtervolg, het hulle ‘n voorwerp by die venster uitgegooi. ‘n Polisievoertuig het gestop en die renosterhoring opgelaai. Die ander polisievoertuig het die verdagtes agternagesit en hulle gearresteer.”
Die broers is glo al voorheen met ‘n landwye renosterhoring­sindikaat verbind en is glo al met verskeie voorvalle in die Kruger Nasionale Park, Bela-Bela en Komatipoort sowel as die Hluhluwe-Imfolozi Park in KwaZulu-Natal verbind.
Volgens inligting het Deon al vyf jaar tronkstraf weens renosterstropery uitgedien.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Polisie op die toneel waar drie verdag­tes buite Louis Trichardt aangekeer is nadat hulle blykbaar ‘n renosterhoring wou verkoop. (Foto: Verskaf)

Exit mobile version