Reservaat weer in kollig na nóg ‘n stroping

Terwyl die polisie die stroping van ‘n renoster in die Polokwane Wildreservaat tussen Kersdag en Nuwejaar ondersoek, het hulle Vrydagmiddag in ‘n onverwante stroopgeval sukses behaal met die inhegtenisneming van Deon en Nick van Deventer en Onwand Muchagowa buite Louis Trichardt nadat hulle vermoedelik ‘n renosterhoring wou verkoop. Polokwane-inwoners was geskok toe ‘n renosterkoei en …

Terwyl die polisie die stroping van ‘n renoster in die Polokwane Wildreservaat tussen Kersdag en Nuwejaar ondersoek, het hulle Vrydagmiddag in ‘n onverwante stroopgeval sukses behaal met die inhegtenisneming van Deon en Nick van Deventer en Onwand Muchagowa buite Louis Trichardt nadat hulle vermoedelik ‘n renosterhoring wou verkoop.
Polokwane-inwoners was geskok toe ‘n renosterkoei en haar kalf in Junie verlede jaar in die plaaslike wildtuin doodgeskiet en ont­horing is. ‘n Tweede koei is gekwes wat later beswyk het. Ses verdagtes is na ‘n intense ondersoek aangekeer en sal eersdaags weer in die hof verskyn.
Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba kon nie die nuutste stroping in die wildtuin bevestig nie, maar ‘n polisiebron sê die renoster is vermoedelik net na Kersdag geskiet en onthoring en is op Oujaarsdag deur ‘n besoeker aan die reservaat gevind. “Die renoster is ongeveer vyf maande gelede as voorsorg teen stroping onthoring, maar selfs die stompie is deur die stropers afgekap.”
‘n Natuurliefhebber wat gereeld die reservaat besoek, is boos oor die partytjies wat tot laataand by die Dries Abrahamse Lapa en die piekniekarea gehou word. Harde musiek, alkoholmisbruik en swak gedrag was glo aan die orde van die dag en het definitief ‘n risiko vir die diere ingehou, volgens die besoeker.
Sy sê haar voertuig is ook tydens twee afsonderlike besoeke gedurende Desember nie deursoek nie. Toe sy vra waarom nie het die hekwag haar meegedeel dat sy nie soos ‘n stroper lyk nie.

Die renosterhoring wat glo deur drie mans verkoop wou word.

Disree Manyane in die Polokwane Munisipaliteit se kommunikasiekantoor het die voorval bevestig. Teen druktyd het sy gesê die munisipaliteit het ‘n begroting vir die opknapping van sekuriteit in die reservaat opgestel. “Ons kan nie al die sekuriteitsplanne bekendmaak nie, maar kan sê dat daar reeds uitkyktorings as deel van die opgradering opgerig is. Die begroting laat dit nie toe om die heining om die 3 200 ha-reservaat te elektrifiseer nie. Die beraamde koste om dit te laat doen is R23 miljoen en ons sal enige iemand wat kan help of ‘n bydrae kan lewer, verwelkom,” sê Manyane. Sy kon nie oor die partytjies en toegangsbeheer kommentaar lewer nie.
Die Van Deventer-broers wat glo al voorheen met ‘n landwye renosterhoringsindikaat verbind is en Muchagowa het Maandag in die Makhado Landdroshof verskyn omdat hul moontlik betrokke is by ‘n voorval op ‘n wildplaas in die Witpoort-distrik waar ‘n renosterkoei en haar kalf doodgeskiet en hul horings afgesny is. Die saak is tot Maandag uitgestel terwyl hulle in aanhouding bly.
Volgens die provinsiale polisie se hoof van korporatiewe kommunikasie, Motlafela Mojapelo het lede van die polisie se bedreigde spesie-eenheid op Louis Trichardt inligting oor die mans wat vermoedelik ‘n renosterhoring wil verkoop, ontvang en dadelik ‘n soektog na die verdagte voertuig geloods.
“Toe die verdagtes besef hulle word agtervolg het hulle ‘n voorwerp by die venster uitgegooi. ‘n Polisievoertuig het gestop en die renosterhoring opgelaai. Die ander polisie­voertuig het die verdagtes agternagesit en hulle gearresteer,” sê Mojapelo.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Polisie op die toneel waar drie verdagtes buite Louis Trichardt aangekeer is nadat hulle blykbaar ‘n renosterhoring wou verkoop. (Foto’s: Verskaf)

Exit mobile version