Local NewsNews

Wees voorbereid vir die eerste dag van skool

Laat ekstra tyd toe om gereed te maak vir die eerste oggend. Dit kan help om angs te verminder.

POLOKWANE – Daar is groot aanpassings wat jou kind die hoof moet bied, of hy/sy gr. 1 toe of by ‘n nuwe skool aansluit.

Review het met opvoedkundige sielkundige, Vincent Cloente, gesels oor hoe om jou kind voor te berei vir die groot stap.

“Ouers kan hulle kinders emosioneel ondersteun om die impak van die aanpassings beter te hanteer deur die volgende te doen:”

Blootstelling aan die nuwe skool omgewing

Indien prakties moontlik, vind uit of julle voor die tyd die skool kan besoek sodat hy of sy vertroud is met die omgewing en dalk sy/haar onderwyser(s)/onderwyseres(se) kan ontmoet.

Gesprekke met jou kind

Voer ʼn gesprek met jou kind oor sy/ haar verwagtinge en moontlike vrese oor gr. 1 toe gaan of na die nuwe skool toe.  Fokus op al die positiewe aspekte soos om nuwe vriende te maak en moedig hom/ haar aan om aan sport en ander aktiwiteite deel te neem.

Koop nuwe skryfbehoeftes

Maak seker dat jy jou kind by hierdie besluite betrek om hom of haar opgewonde te maak oor die skooljaar wat voorlê.

Roetine

Kinders se gewone roetines val weg tydens skoolvakansies. Dit is belangrik om egter die week voor skole weer oopmaak jou knid weer in ‘n roetine te laat kom.

Goeie maniere

Herinner jou kind daaraan om nie die goeie maniere wat julle hom aangeleer het, te vergeet nie. Sê duidelik vir jou kind wat jy van hom/ haar verwag en hoe hy/ sy in sekere situasies moet optree, byvoorbeeld wanneer om “asseblief” en “dankie” te sê, en om na die meneer of juffrou te luister.

Skeidingsangs

As jy bewus is daarvan dat jou kind skeidingsangs het maak betyds ʼn afspraak met ʼn sielkundige om aandag hieraan te skenk.

Inligting om met die skool te deel

Lig die skool in as jou kind enige mediese toestande soos allergieë, asma, diabetes ens het, asook enige leerprobleme.

Voorbereiding vir die eerste skooldag

Laat jou kind in beheer voel: Laat jou kind sy of haar eie goed in sy of haar skoolsak pak en jou help om sy/haar kosblik te pak.

Laat ekstra tyd toe om gereed te maak vir die eerste oggend. Dit kan help om angs te verminder en hier word nie net na jou kind se angs verwys nie. Ouers kan ook gespanne wees oor wat voorlê; jou kind sal dit aanvoel.

Herinner jou kind waar en wanneer jy hom of haar ná skool gaan optel. Gee jou kind ’n wagwoord as jy hom nie self by die skool gaan haal nie. Maak dit baie duidelik aan jou kind dat hy of sy nooit saam met iemand mag ry wat nie die wagwoord ken nie. Skryf belangrike inligting soos jou kontakbesonderhede neer en lig jou kind in oor belangrike veiligheidmaatreëls.

Stel jou kind gerus deur vir hom/haar te noem dat jy net ’n oproep weg is.

Moenie net ongesiens wegglip nie: Sê altyd op ’n liefdevolle wyse totsiens by die skoolhek en stel jou kind gerus dat jy hom/haar weer oor ’n paar uur gaan sien. Onthou ook om jou kind betyds op te tel – maak seker dat jy ’n paar minute vroeër by die skool opdaag.

 

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button