Vera Grundling deel van Kruinies in 2017

Met die wat Curro Heuwelkruin net die beste vir hul leerders wil hê, is daar besluit om met die aanvang van die eerste kwartaal in 2017, 'n voltydse terapeut by die skool aan te stel.

POLOKWANE – Vena Grundling het haar onderwysstudies aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) in 1997 begin waarna sy in 2002 haar B.Prim Ed met lof behaal het. Sy sit haar studies voort en behaal in 2003 ‘n honneursgraad in opvoedkundige sielkunde met spesialisering in ondersteuningsonderwys – eweneens met lof.

Ondersteunings-onderrig, meer bekend as remediëring, behels hulpverlening aan die leerder met leerprobleme om sodoende kritieke vaardighede, soos byvoorbeeld lees, te bemeester. Met remediëring poog die terapeut om leer-, kognitiewe- en perseptuele probleme aan te spreek by die leerder met leerprobleme wie nie aan die akademiese eise wat die skool en klaskamer stel, voldoen nie.

Vena het in 2008 haar graad, Magister Diaconiologiae, in spelterapie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) behaal.

“Spelterapie is ‘n wyse waarop berading met kinders van ongeveer drie tot 11 jaar gedoen word.

“Dié terapie gebruik die veilige, natuurlike omgewing van spel om kinders die geleentheid te gee om hul gevoelens uit te druk en te verstaan,” verduidelik sy.

Sy was vir drie jaar verbonde as voltydse terapeut aan die Primêre Skool Jim Fouché waar sy leerondersteuning aan leerders met leeragterstande gebied het. Nadat haar man, ds. Carel Grundlingh, in 2007 na Polokwane beroep is, het Vena voltyds begin skoolgee terwyl sy ‘n privaatpraktyk bedryf het vir remediërende onderrig en spelterapie.

Die feit dat Vena 10 jaar ondervinding het in laerskoolonderwys in beide die grondslag- en intermediêre fase, beteken dat sy die eise wat aan leerders in die klaskamer gestel word, ten volle begryp en deeglik onderlê is in die laerskoolkurrikulum.

Haar praktyk sal vanaf Januarie by die laerskool bedryf word.

“Leerders met leer- en ander agterstande sal deur die skool se intervensieprogram na my verwys word.

“Hulpverlening sal gedurende skoolure tydens nie-eksamenvakperiodes gebied word wat ouers moeite en tyd sal spaar. Dié diens sal gratis aan Kruinies verskaf word.”

Curro Heuwelkruin se Hoofuitvoerendebeampte, Eben Lingenfelder, het Vena namens die skool verwelkom.

“Ons is bly om Vena by ons span te verwelkom en sien daarna uit om saam met haar te werk.”

maretha@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version