Lekkernye én breinkos by skool se snoepie

Leerders by Laerskool Pietersburg smul heerlik aan al die lekkernye en gesonde kos wat hul "snoepietannie" opdis of verkoop.

POLOKWANE – Review het onlangs met Elmarie Grobler, wat die snoepie by Laerskool Pietersburg behartig, gesels oor hoe sy sekermaak leerders kry gesonde koshappies by haar snoepie.

Volgens Elmarie is dit ‘n algemene uitdaging vandag dat ouers nie tyd het het om hul kinders se kosblikke te pak nie en dan gee hulle hul kinders ‘n geldjie om iets by die snoepie te koop.

“Daar is gewoonlik nie baie gesonde happies te koop by skoolsnoepies nie,” vertel Elmarie.

“Ons berei elke dag slaai voor en sorg dat daar altyd seisoenale vrugte is vir die leerders om aan te smul, daar is ongelooflik baie kinders wat verkies om slaai of selfs vrugte te koop bo ‘n lekkerny,” vertel sy.

Sy sê dit is jammer dat meer mense nie besorgd is oor kinders se eetgewoontes nie, veral by skole se snoepies.

Sy pas haar spyskaart elke nou en dan aan en laat ‘n ‘gemorskosdag’ toe elke Vrydag.

“Dis moeilik om te bepaal of leerders gesonder eet as gevolg van die snoepie maar daar is beslis gevalle waar die terugvoer van die ouers is dat hulle kinders nie meer lekkers in hul kosblikke wil hê nie en liewer ‘n geldjie om ‘n gesonde toebroodjie te koop verkies,” vertel sy trots.

Volgens Elmarie is daar baie mense wat oningelig is oor hul kinders se gesondheid en eetgewoontes.

“Baie ouers pak lekkers of skyfies vir hul kinders in om hulle te bederf maar dit is verkeerd. Hulle gaan dit elke dag begin verwag en dit is nie gesond nie,” verduidelik sy.

“Ek sê nie ouers moet glad nie vir hul kinders iets lekkers gee nie, maar hulle moet in gedagte hou dat daar van die lekkers is wat eintlik baie nadelig kan wees vir hul kinders as hulle te veel daarvan eet,” beklemtoon sy.

Elmarie sê sy verkoop glad nie blou-gekleurde lekkers nie omdat sy by ‘n dieetkundige uitgevind het blou kleursel kan hiperaktiwiteit in kinders veroorsaak.

Haar raad aan ouers en snoepie-bestuurders is om na die behoeftes van die leerders te kyk wanneer hulle spyskaarte opstel.

riana@nmgroup.co.za

Exit mobile version