Local NewsNews

‘Boelies sal moet stopgesit word’

Marise Rademan het 'n Facebookblad begin nadat haar seun in gr. 2 geboelie is om ander ouers te help om dié situasie te identifiseer en te hanteer.

POLOKWANE – Verskeie faktore beïnvloed leerders se emosionele welstand in die skool.

Een van dié dinge is die verhoudings wat hul met hul medeleerders by die skool vorm.

Marise Rademan is die ma van ‘n gr. 4-leerder in die stad.

Sy het ‘n Facebookblad begin nadat haar seun in gr. 2 geboelie is om ander ouers te help om dié situasie te identifiseer en te hanteer.

“My seun het in gr. 2 begin kla dat ‘n leerder hom boelie. Ek het bietjie voelers op Facebook uitgesteek en besef dat boelie in talle skole voorkom. Dis ook nie net kinders wie mekaar boelie nie, onderwysers maak hulself ook skuldig daaraan om kinders te boelie,” vertel sy.

Sy verduidelik die mees algemene oplossing wat gebied word deur onderwysers is dat die kinders dit self moet uitsorteer of die probleem word aan die leiers by die skool se voete gelê om die situasie te beredder.

“Die Facebookblad bring ouers bymekaar sodat hulle kan saamwerk om boeliegedrag in skole stop te sit.”

Review het met Zelda Buitendag, ‘n kliniese sielkundige oor boeliegedrag gesels

“Daar is baie navorsing gedoen ten opsigte van die uitwerking wat geweld en seks op televisie op kinders se houdings en waardes het. By hierdie lys kan die internet en selfone gevoeg word. Die internet het ‘n groot deel geword van ons kinders se opvoedkundige sowel as sosiale bestaan en dit stel hulle bloot aan nog meer geweld. Rekenaar- en selfoontegnologie het die skakels geword van ons kinders se sosiale netwerke,” verduidelik sy.

Zelda verduidelik dat boelie twee komponente het – die herhaaldelike skadelike gedrag, en ‘n wanbalans van mag. Dit sluit in aanhoudende fisieke, verbale of sielkundige aanvalle of intimidasie teen ‘n slagoffer wie hulself nie kan verdedig nie.

“Om geboelie te word kan blywende skade veroorsaak, hetsy of dit fisies of emosioneel is. Dikwels genees die fisiese wonde vinnig, maar dan bly die emosionele littekens agter in ‘n swak selfbeeld. Boelie is ‘n poging om vrees en selfwalging aan te wakker in ander.”

Volgens Morné Marais, voormalige Mnr. Suid-Afrika-finalis en ambassadeur vir die Fighting Against Bullying and Abuse (Faba) Movement, is daar verskeie redes waarom mense mekaar boelie.

Hy verduidelik die faktore is nie vir almal dieselfde nie.

Die volgende faktore kan redes wees hoekom kinders ander boelie:

• Gebrek aan aandag vanaf ouers, vriende en onderwysers.

• Direkte optrede van frustrasie en woede, probleme by die huis met ouers.

• Sommige kinders het geleer boelie van ander mense soos hul ouers, broers of susters en vriende.

• Geweldadige films en videospeletjies. Kinders probeer gewoonlik die aksies uitvoer op mense wie kleiner of swakker as hulle is.

Marise voel egter dat ouers dikwels nie weet hul kinders is ‘n boelie nie.

“My seun is nie ‘n engeltjie nie en het self al iemand geboelie. Ek het dit besef toe hy saam met huisvriende van ons se kind gespeel het en ek geluister het hoe hulle met mekaar gesels. Ek het besef my kind boelie die ander kind en het hom dadelik eenkant toe geroep en hom daarop berispe. Ek dink ouers moet hul kinders ken en weet wanneer hulle regtig stout is en wanneer daar ‘n rede vir hul optrede is. Kyk na die televisieprogramme waarna hulle kyk en monitor hulle selfoongebruik. Ons as ouers moet saam staan en mekaar help om boeliegedrag te bekamp.”

Vir meer inligting, besoek die Facebookblad: Anti Bully Polokwane of die webwerf: https://fabafoundation.com.

maretha@nmgroup.co.za

 

Related Articles

Back to top button