Matrikulante pluk soet vrugte

Breë glimlagte was aan die orde van die dag toe matrikulante van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) en Waterberg High School vandag hul finale matriekuitslae ontvang het.

MOKOPANE – Die CVO-Skool Potgietersrus het ‘n 100% slaagsyfer behaal en spog met 13 onderskeidings. Mokopane English Combined School (MECS) vier die Nuwejaar ook met ‘n 100% slaagsyfer en ‘n somtotaal van 15 onderskeidings. Verlede jaar se hoofmeisie, Lilly Labuschagne, is hul toppresteerder met vyf onderskeidings.

Waterberg High School se matrikulante spog met ‘n 100% slaagsyfer en die matrikulante kon met hulle koppe omhoog by die skoolhekke uitstap.

Matrikulante het vroegoggend saamgedrom by HPP se skoolkantoor om hul Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) te ontvang. Verlede jaar se gr. 12’ s se slaagsyfer is vasgemaak op 99,4% maar die groot totaal onderskeidings kon nie vasgestel word teen die tyd wat Bosveld die berig gepubliseer het nie.

Janke Blount en Gaby Nel (2016 hoofmeisie) staan uit in die groep met agt onderskeidings. Monique de Sousa volg kort op hul hakke met sewe onderskeidings. Daarop volg Eduard Barnard, Susan Nailana, Megan Smuts en Jana-Lené van Eck met ses onderskeidings elk.

Marnus Uys (2016 hoofseun) behaal vyf A’s. Hou Bosveld dop vir die totale hoeveelheid onderskeidings behaal deur die matrikulante.

Rekeningkunde is nie enige man se maat nie en Susan Nailana het bewys dat sy hierdie vakgebied kon baas raak. Sy het ‘n uitmuntende 100% behaal vir hierdie senutergende vak. ‘n Jong vrou soos dié is inspirerend en ‘n onderhoud met haar volg binnekort.

Die matrikulante van Waterberg High School was in ekstase om hulle NSS te gaan haal en dié skool spog weereens met ‘n uitstekende 100% slaagsyfer wat bewys dat hul nie hoef terug te staan vir enigeen nie. Onder die gr. 12-leerders was daar ‘n uitmuntende getal van 52 onderskeidings behaal en 59% van die leerders het universiteitsvrystelling verkry. Maxine Lehutso (2016 hoofmeisie) het een onderskeiding behaal en Thabang Rameetse (2016 hoofseun) het drie onderskeidings behaal. Onderhoude met dié uitmuntende matrikulante volg binnekort in Bosveld.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version