Local NewsNews

Is my kind se dagsorg voldoende

In vandag se besige lewe waar dit dikwels die geval is dat albei ouers moet werk, is dit van uiterste belang dat jou bondeltjie liefde in 'n dagsorg is wat goed na hom of haar sal omsien en wat aan die nodige vereistes voldoen.

POLOKWANE – Review het met die Woordvoerder van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Adele van der Linde, gesels oor al die prosedures wat in plek is waaraan ‘n dagsorg moet voldoen voor hul hul deure kan oopmaak.

“Volgens die Kinderwet, Wet 38/2005, neem dit ongeveer ses maande om ‘n dagsorg by die munisipaliteit te registreer. Daar is wel gevalle waar dit so vinnig as binne drie maande kan gebeur indien die nodige dokumentasie in plek en beskikbaar is,” verduidelik Van der Linde.

Onder andere sluit die dokumente wat vir registrasie benodig word ‘n verslag van die omgewingspraktisyn, ‘n brief van die munisipaliteit, die dagsorg se spyskaart, en foto’s van die gebou(e) waar die dagsorg gaan wees.

“Om die spyskaart vir die dagsorg op te stel word dit aanbeveel dat die aansoeker met ‘n dieetkundige praat of by ‘n kliniek aanklop om ‘n gesonde spyskaart op te stel,” verduidelik Van der Linde.

Volgens wet word geen lyfstraf toegelaat nie en moet die daaglikse program in lyn met die Nasionale Vroeë Leerontwikkelingstandaarde (NELDS) en die nasionale kurrikulumraamwerk wat in 2014 deur die kabinet aanvaar is.

Review het met Koba Velloen, eienaar van Storieland Babaskool gaan gesles oor haar ervaring met die prosedure om ‘n dagsorg te registreer en besit.

“Die heel belangrikste ding vir my is dat ek glo aan eerlikheid. Jy moet eerlik wees met die ouers en hulle met jou. Jy moet eerlik wees in dit wat jy sê en in dit wat jy doen. Ook moet jy toeganklik wees vir ouers. Hulle moet ter enige tyd by jou dagsorg of skool kan instap en weet wat hulle te wagte kan wees. Verder moet jy ‘n veilige omgewing skep, nie net wat sekuriteit insluit nie, maar ook gesonde maaltye, versorging en higiëne. Ons kleuters volg ‘n vasgestelde program. Al televisie wat die kinders kyk is opvoedkundige programme in die middag as dit te warm is om buite te speel of reën. Dan sing en dans hulle saam en doen die aktiwitete wat Lollos sê hulle moet doen. Ek glo dat ‘n vervelige kind ‘n stout kind is. Genoeg personeel en personeel wat betrokke is, help ook baie.”

Volgens wet is daar ‘n kind tot personeel verhouding. Dit beteken dat vir elke een personeellid by die dagsorg kan daar ses (0-18 maande), 12 (18 maande tot drie jaar), 20 (Drie tot vier jaar), of 30 (Vier jaar en ouer) kinders per personeellid wees, afhangend van die ouderdom van die kinders.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button