Inwoners help medemens in uur van nood

"Ek het nie geweet dat mense nog so vir mekaar omgee nie" - Pieter Blignaut

POLOKWANE – Pieter Blignaut wil graag die mense van die stad bedank wat hom in sy uur van nood te hulp gesnel het.

Blignaut het onlangs, in die storm van ‘n week terug, sy huis met al sy besittings verloor. Tydens die storm is die grasdak langs sy huis, wat hy vir die afgelope vyf jaar huur, deur weerlig raak geslaan en het begin brand. Kort daarna het die grasdak ook sy huis se dak aan die brand gesteek en die huis en alles daarin verander in hopies as.

“Ek was oppad huis toe en toe ek by die erf inry, was alles reeds vernietig. Ek het nie woorde om dit te kan beskryf nie. Dis ongelooflik dat mens so vinnig alles wat jy gehad het, kan verloor,” vertel hy.

Hy vertel dat in die daaropvolgende dae het hy skenkings van alle oorde ontvang. En minder as ‘n week na die brand is daar niks meer in die huis wat hy kort nie. “Ek het nie geweet ek het soveel vriende nie. Ek het nie geweet dat mense nog so vir mekaar omgee nie.”

Blignaut wil graag aan al die mense wat hom in dié tyd bygestaan het en skenkings gegee het, bedank dat hulle hul harte vir hom oopgemaak het. “Julle het my gevat van niks hê nie na ‘n plek waar ek alles het wat ek ooit kan nodig kry. Ek hoop dat elkeen van julle geweldig geseën sal wees in die feestyd en ook in die komende jaar,” het hy gesê. Hy woon tans by familie in die stad en die herbou van sy huur-huis het reeds begin.

Hy hoop om vroeg in 2017 weer terug te kan trek.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version