Polisie stuit transitorowers

‘n Skietery tussen die polisie en drie mans wat Saterdag glo ‘n geldwa in Jane Furse wou beroof, het tot die inhegtenisneming van twee vermeende skurke gelei. ‘n Derde verdagte het hom later dieselfde dag aan die Polokwane polisie oorgegee. Die drie sou na verwagting Dinsdag in die Lebowakgomo landdroshof verskyn het. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, …

‘n Skietery tussen die polisie en drie mans wat Saterdag glo ‘n geldwa in Jane Furse wou beroof, het tot die inhegtenisneming van twee vermeende skurke gelei. ‘n Derde verdagte het hom later dieselfde dag aan die Polokwane polisie oorgegee.
Die drie sou na verwagting Dinsdag in die Lebowakgomo landdroshof verskyn het.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het die polisie inligting ontvang dat ‘n groep gewapende verdagtes ‘n rooftog op ‘n geldwa wat geld by besighede van ‘n plaaslike winkelsentrum sou oplaai, beplan.
“Lede van die provinsiale opsporing- en taktiese reaksie-eenheid het vinnig op die inligting gereageer. Die lugvleuel se hulp is ook ingeroep. Die eenhede het die verdagte voertuig naby die sentrum opgemerk en probeer om dit voor te keer, maar die insittendes het op die polisie begin skiet. Polisie het teruggeskiet, twee verdagtes gewond en gearres­teer. ‘n Onbekende aantal verdagtes het daarin geslaag om weg te kom, maar een het hom later oorgegee,” sê Ngoepe.

Die verdagtes was in besit van ‘n AK-47 aanvalsgeweer en ‘n 9 mm pistool.

Ngoepe sê een van die verdagtes wat vasgetrek is, is voorheen vir ontvoering en poging tot moord aangekeer en was ten tye van die voorval uit op borgtog. Hy kan moontlik ook met verskeie sake van motorkapings verbind word en was waarskynlik by die ontvoering van Anisah Moosa in Maart betrokke. ‘n AK-47 aanvalsgeweer, ‘n pistool en ammunisie is gekonfiskeer. Polisie het ook op ‘n Mercedes-Benz wat vroeër in Bosbokrand gekaap is, beslaggelê.
Die voorval volg na ‘n beplande rooftog op ‘n geldwa in Tzaneen op 28 November waartydens die polisie ook arrestasies gemaak het voordat die misdaad uitgevoer kon word. Ngoepe het teen druktyd nie verdere inligting oor dié voorval gehad nie.
Hy het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om aan te hou om inligting aan die polisie deur te gee. “Enige inligting word deur die polisie as ernstig en waardevol beskou en dadelik opgevolg,” sê Ngoepe.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Die voertuig is gekonfiskeer tydens ‘n be­plan­de rooftog wat deur die polisie gefnuik is. Die motor is blykbaar vroeër in Bosbokrand gekaap.  (Foto’s: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version