Local NewsNews

Myngenoegen Shelter: Gemoedere loop hoog, toekoms in weegskaal

Gemeenskapslede, organisasies en veral sakelui in Polo­kwane wat oor baie jare in ‘n vertrouensverhouding met Myngenoegen Shelter was, baie persoonlike ure opgeoffer en groot somme geld in belang van die verdienstelike saak geskenk het, raak toenemend ongemaklik en gefrustreerd oor die klaarblyklike burokra­tiese en onkonvensionele wyse waarop die projek bestuur word. Toenemende verskille tussen bestuurskomiteelede en …

Gemeenskapslede, organisasies en veral sakelui in Polo­kwane wat oor baie jare in ‘n vertrouensverhouding met Myngenoegen Shelter was, baie persoonlike ure opgeoffer en groot somme geld in belang van die verdienstelike saak geskenk het, raak toenemend ongemaklik en gefrustreerd oor die klaarblyklike burokra­tiese en onkonvensionele wyse waarop die projek bestuur word.
Toenemende verskille tussen bestuurskomiteelede en ‘n lid van die direksie, Pieter Booyzen, op wie se eiendom die shelter bedryf word, is Vrydag op die spits gedryf toe die bestaande komitee summier deur Booyzen met die ondersteuning van ‘n derde direkteur, Tommy Richards, ontbind is.
Hierdie komitee het skaars ‘n maand lank gefunksioneer. Booyzen is ontevrede oor die interaksie van komiteelede met die shelterbewoners en die gevolglike “verdraaide boodskappe” wat na buite uitbasuin word.
“As ‘n direkteur van die maatskappy sal ek dit eenvoudig nie toelaat nie,” het hy in ‘n gesprek met Polokwane Observer gesê en bygevoeg dat die enigste belange wat hy op die hart dra dié van die shelterbewoners is.
Maar van die ontbinde komiteelede stem egter nie hiermee saam nie en beweer Booyzen het ongrondwetlik opgetree deur die komitee te ontbind. Een van die komiteelede stel dit duidelik dat hy/sy nie weer verkiesbaar is nie, aangesien daar ‘n “onherstelbare vertrouensbreuk” tussen gewillige komiteelede en Booyzen ontstaan het.
Booyzen het egter sover gegaan om kennis aan die 25 inwoners te gee dat die shelter teen 28 Februarie  gaan sluit, maar terselfdertyd aan hulle die versekering gegee dat “niemand onder ‘n pyp gaan slaap nie”. Hierdie kennisgewing is steeds van krag, maar Booyzen het aangedui dat hy sy besluit sal heroorweeg indien die ontbinde komitee en spesifiek een van die drie direkteure, Christa van Tonder, na hom terugkom met ‘n skriftelike voorlegging oor ‘n herstrukturering van die komitee.
Dinsdagoggend het Booyzen bevestig dat hy nog nie so ‘n skrywe ontvang het nie en hy staan gevolglik steeds by sy besluit oor die sluiting van die shelter. Hy het egter genoem dat “die Vader na die hart kyk wat goed wil doen” en hy nie onwrikbaar sal wees as voorstelle tot sy bevrediging aan hom voorgelê word nie.
“Indien ons onderling ooreenkoms kan bereik, reik ek onmiddellik kennisgewings uit dat die inwoners mag aanbly,” het hy gesê.
Uit die notule van die gewraakte vergadering waartydens die komitee ontbind is, blyk dit dat al die komiteelede  geskok, kwaad en baie ontevrede met die verloop van sake is. Die meerderheid van die lede het aangedui dat hulle nie langer kans sien om onder “burokra­tiese omstandighede en eensydige handelinge” die saak kan dien nie.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button