Limpopo paaie eis 20 lewens in twee dae

Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba het ‘n beroep op motoriste gedoen om ten alle tye die padreëls te gehoorsaam en te verseker dat voertuie padwaardig is nadat ten minste 20 mense Saterdag en Sondag in botsings op die provinsie se paaie omgekom het. Saterdagoggend in ‘n motorfietsryer, Antonio Camisa deur ‘n vragmotor op die hoek van …

Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba het ‘n beroep op motoriste gedoen om ten alle tye die padreëls te gehoorsaam en te verseker dat voertuie padwaardig is nadat ten minste 20 mense Saterdag en Sondag in botsings op die provinsie se paaie omgekom het.
Saterdagoggend in ‘n motorfietsryer, Antonio Camisa deur ‘n vragmotor op die hoek van Pie­tersburg- en Landdros Maréstraat raakgery. Volgens sy susterskind, Louis Pereira het die vragmotor die motorfiets etlike meter ver gesleep voordat die motorfiets aan die brand geslaan het. “My oom lê in die neurologiese intensiewe sorgeenheid van die Netcare Montana Hospitaal. Hy is dieselfde dag van die ongeluk daarheen oorgeplaas nadat bloeding op sy brein waargeneem is. Hy het verder sy been en vyf ribbebene gebreek, beide longe is geperforeer en hy het ‘n skeur aan een nier opgedoen,” sê Pereira.
Die aand is drie mense naby die Landdros Maré-afrit op die N1-noord dood nadat ‘n minibustaxi teen ‘n tenkwa gebots het. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die taxi het 15 mense na Zimbabwe vervoer.
Twee vrouens en die bestuurder het in die ongeluk omgekom terwyl die vragmotorbe­stuurder en ander passasiers slegs ligte beserings opgedoen het.
“Later die aand is vier mense op die N1-noord naby Masekene dood toe ‘n Toyota Tazz en Hyundai ligte vragmotor trompop gebots het. Twee mans en twee vroue waarvan een swanger was, is op die toneel dood,” sê Ngoepe.

Drie mense is Saterdag dood in ‘n botsing op die N1-noord naby die Landdros Maré-afrit.

Omstreeks 00:30 Sondagoggend is een persoon in ‘n kop-teen-kop-botsing op die pad tussen Louis Trichardt en Mara dood. Ngoepe kon nie bevestig hoeveel insittendes is verder in die botsing beseer nie.
Dieselfde oggend om 04:00 het vier mense op die Roedtan-Modimollepad verongeluk. “’n Taxi wat 16 passasiers vervoer het, het in die rigting van Modimolle gery en naby die Rathoke-weegbrug weens ‘n gebarste band omgeslaan. Drie vrouens is op die toneel dood terwyl die bestuurder met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar is,” sê Ngoepe.
‘n Gru-ongeluk het Sondagaand die lewens van 11 mense op die N1 naby die Nyl Plaza geëis. Die ongeluk het omstreeks 22:50 tussen ‘n Toyota Avanza en vragmotor gebeur.
Die vragmotor het klaarblyklik in ‘n suidelike rigting gery toe die Toyota vanuit die teenoorgestelde rigting se band gebars het en die voertuig voor aankomende verkeer inbeweeg het. “Beide voertuie het in vlamme uitgebars. Tien insittendes van die Avanza is op die toneel dood terwyl die elfde persoon op pad hospitaal toe omgekom het. Sommige van die oorledenes het in die wrak verkool. Die vragmotorbestuurder het ernstige beenbese­rings opgedoen,” sê Ngoepe.
Hy het motoriste gewaarsku dat die polisie en verkeersbeamptes ten alle tye op die hoofroetes in die provinsie ontplooi sal wees en dat bestuurders wat nie die padreëls nakom nie, kortgevat sal word. “Verkeersvolumes het reeds begin toeneem en ons pleit dat motoriste dat hulle geduldig op die paaie sal wees en die roekeloos of nalatig sal bestuur nie,” sê Ngoepe.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Die wrakstukke van ‘n Toyota Avanza en ‘n vragmotor wat uitgebrand het waarin 11 mense omgekom het.  (Foto’s: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version