CrimeNews

Spykers-in-blikkies slenter om motoriste uit te vang

Motoriste wat laataand of vroegoggend ry word gewaarsku om vir hule eie veiligheid nie oor iets soos blikkies in die straat te ry nie.

POLOKWANE – Dit kom na ‘n inwoner van Florapark, Tanya van Niekerk aan Review vertel het dat sy glo byna die slagoffer van ‘n kaping was.

Van Niekerk vertel dat haar enigste redding was dat sy nie ver van haar huis af was nie en dat haar man vinnig op haar noodoproep gereageer het.

Van Niekerk het aan Review vertel dat sy Maandag in die vroëe oggendure oppad huis toe was na ‘n laatskof by haar vervoerbesigheid en dat sy oor ‘n blikkie in die pad gery het.

“Ek het oor die blikkie gery en gehoor dat my een band ‘n vreemde geluid maak. By verdere ondersoek het ek gesien dat die band ‘n stuk klei bevat met spykers daarin wat in alle rigting uitsteek,” vertel Van Niekerk.

Sy het haar man onmiddellik geskakel om haar te kom help. “Terwyl ek op die foon besig was het ek in die hoek van my oog twee mans sien aangeloop kom.

“Ek het myself in die motor toegesluit. My man het binne ‘n paar minute opgedaag en die mans het net verdwyn,” vertel sy.

Die egpaar het later in dieselfde straat op twee soortgelyke blikkies afgekom.

“Ons glo dat die blikkies moontlik iets is wat rowers of kapers wil gebruik om mense te kry om stil te hou en hulle dan maklike teikens te maak.”

Sy en haar man moedig mense aan om op die uitkyk te wees waneer hulle blikkies en dalk ander items in die pad sien.

“Wees versigtig en probeer om nie stil te hou nie,” waarsku die Van Niekerkegpaar.

Polokwane Polisiewoordvoerder Kapt. Ntobeng Phala het aan Review gesê dat daar geen saak van die aard aan die polisie gerapporteer is nie.

“Ek nooi die van Niekerkgesin en ander families wat weet van soortgelyke gevalle om dit aan die polisie te rapporteer sodat ons dit kan ondersoek,” het hy gesê.

Die probleem is dat ‘n volledige ondersoek nie geloods kan word alvorens ‘n saak met amptelik by die polisie aanhangig gemaak word nie, het hy bygevoeg.

riana@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button