Local NewsNews

Terugslag vir Calie, seun kan help

‘n Leerkrag van Hoër Tegnie­se Skool Tom Naudé, Calie van der Walt moes in 2014 tydelik sy liefde vir onderrig weens sy stryd met miëlodis­plastiese sindroom (MDS) prysgee, maar het verlede jaar weer by die skool aange­sluit nadat hy in September 2015 beenmurg van ‘n skenker uit Duitsland ontvang het. In Augustus vanjaar het dokters …

‘n Leerkrag van Hoër Tegnie­se Skool Tom Naudé, Calie van der Walt moes in 2014 tydelik sy liefde vir onderrig weens sy stryd met miëlodis­plastiese sindroom (MDS) prysgee, maar het verlede jaar weer by die skool aange­sluit nadat hy in September 2015 beenmurg van ‘n skenker uit Duitsland ontvang het.
In Augustus vanjaar het dokters onraad gemerk nadat Van der Walt se bloedtelling weer begin daal het en die scenario hom weer herhaal het. “Ek tree nou finaal aan die einde van die jaar af omdat my toestand my kortwiek om die pas vol te hou en ek op my gesondheid moet konsentreer.”
MDS is onaktiewe bloedkanker in selle wat veroorsaak dat die beenmurg nie normaal rooi- en witbloedselle en bloedplaatjies kan produseer nie. Dit word as voorloper van kanker beskou en ‘n stamseloorplanting is noodsaaklik om lewensverwagting te skep.
Maar daar is darem ook lig aan die einde van die tonnel. Toe Van der Walt destyds met MDS gediagnoseer is, kon dokters nie ‘n geskikte skenker opspoor nie en hy moes byna twee jaar wag voordat ‘n skenker in Duits­land opgespoor is. Selfs sy vrou en kinders was nie vir ‘n stamseloorplan­ting geskik nie.
“Met nuwe tegnologie het dokters vasgestel dat my seun, André wel ‘n geskikte skenker is. Voorbereidings en toetse begin reeds einde Desember en die beplanning is dat die stamseloorplanting vroeg in Januarie in Pretoria gedoen sal word,” sê Van der Walt. Die stamselle sal uit André se beenmurg geoes word.
André sê die feit dat hy ‘n geskikte skenker is, is moeilik om in woorde om te sit. “Ek voel natuurlik baie bevoorreg om so iets vir my pa te doen. Dit is eintlik ‘n vreemde gevoel,” sê André.
Oor die terugslag sê Van der Walt dat hy tydens sy behandeling en stam­­seloorplanting slegs chemoterapie ontvang het en dat hy vermoed dat dit nie genoeg was om van al die kwaadaardige selle ontslae te raak nie.
“Dit is die pad wat my Here vir my uitgelê het en ek moet dit stap. Ek sien op na die pyn wanneer toetse weer gedoen moet word, maar ek hou vas aan my geloof en glo dat ek dié keer volkome sal genees.”
Van der Walt sal soos die vorige keer na die prosedure vir ongeveer drie maande in Pretoria bly sodat dokters beenmurgbiopsies en bloedtoetse kan doen om die groei van stamselle te monitor.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Calie van der Walt en sy seun, André (regs), wat in Januarie beenmurg aan sy pa gaan skenk.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button