Feesseisoen-operasies laat skurke op hul baadjie kry

Misdadigers het geen kans wanneer hulle in die mans en vroue in blou se visier tydens hul feesseisoen-operasies is nie sê die polisie. Verskeie verdagtes wat tydens dié operasies aangekeer is, het reeds in howe regoor die provinsie verskyn. Tydens gesamentlike operasies oor die naweek tussen verskeie eenhede van die provinsiale polisie is daar op …

Misdadigers het geen kans wanneer hulle in die mans en vroue in blou se visier tydens hul feesseisoen-operasies is nie sê die polisie. Verskeie verdagtes wat tydens dié operasies aangekeer is, het reeds in howe regoor die provinsie verskyn.
Tydens gesamentlike operasies oor die naweek tussen verskeie eenhede van die provinsiale polisie is daar op Groblersdal, Louis Trichardt, Mahwelereng, Bela-Bela, Polokwane, Seshego, Musina, Giyani, Tzaneen en Tubatse gefokus.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe is 68 verdagtes op aanklagte van onder meer gewapende roof, kaping, huisbraak en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en dwelms aangekeer.
Items wat gekonfiskeer is, sluit agt vuurwapens, drie voertuie, 6,1 kg dagga, 15 selfone, vier tablette, bankkaarte en 101 kg koper in.
Intussen het die polisie in Tzaneen ook ‘n groot deurbraak gemaak met die arrestasie van ‘n 26-jarige man van Gauteng. “Hy het drie R5-gewere met sewe magasyne, ses koeëlvaste baadjies, plofstof, koperkabels en ‘n polisietrui in sy besit gehad. Die voertuig waarmee hy gery het is glo onlangs in Kemptonpark gekaap,” sê Ngoepe.
‘n 41-jarige man is Maandag in besit van 450 kg dagga ter waarde van R1,3 miljoen ook in Tzaneen gearresteer.
“Soortgelyke operasies sal deurentyd plaasvind. Vakansiegangers kan gerus wees dat ons om elke hoek en draai sal wees om ‘n veilige feesseisoen te verseker. Ons moedig mense aan om hul volle samewerking te gee en enige inligting oor verdagte persone of voertuie dadelik aan die naaste polisiestasie te verskaf.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Een van die verdagtes wat gedurende ‘n feesseisoen-operasie vasgetrek is.  (foto’s verskaf)

Tydens ‘n operasie in Tzaneen is meer as 450 kg dagga ter waarde van R1,3 miljoen gevind.
Drie R5-gewere en verskeie koeëlvaste baadjies is gekonfiskeer.
Exit mobile version