Local NewsNews

‘Hy’s ons almal se ligstraal’

Altus Pelser (4) is hy met spina bifida myelomeningocele hydrocephalus gediagnoseer

POLOKWANE – “My krag is af in my bene en ek wil hê die dokter moet weer die krag aansit sodat ek kan hardloop,” vertel ‘n groot-oog Altus Pelser (4) terwyl hy in sy tuisgemaakte rolstoel sit.

Altus is in Tzaneen met ‘n keisersnit gebore en sy familie en dokters het eers na sy geboorte besef dat daar fout met sy ontwikkeling is.

Sy ma, Maryke, vertel dat hulle niks buitengewoon tydens die swangerskap opgemerk het nie.

“Ek het ‘n normale swangerskap gehad. Aangesien Altus ‘n groot baba was, het ons besluit op ‘n beplande keisersnit en my ma het vir die prosedure vanaf Polokwane na Tzaneen gereis,” vertel Maryke.

“Die oomblik toe die dokters hom na die operasie sien het hulle gesê daar is fout en is hy met spina bifida myelomeningocele hydrocephalus gediagnoseer.

“Hy het ‘n gaatjie op sy stuitjie gehad wat veroorsaak het dat daar skade aan die sentralesenuweestelsel was, dit sluit die brein en ruggraat in.”

Altus het saam met sy ouma, Connie, in die ambulaans na Polokwane gery waar hy onmiddellik geopereer is.

“Hulle moes hom binne 24 uur na geboorte opereer waarna hy vir 48 uur onder observasie moes wees om te monitor of daar enige swelling aan sy kop sou wees as gevolg van te veel vog in sy liggaam.

Aangesien sy kop wel geswel het, moes dokters ‘n shunt (klein gaatjie) insit om te help dat vloeistof van een deel van sy liggaam na ‘n ander kan vloei. Hy was vir twee weke in die intensiewesorgeenheid,” vertel Connie.

As gevolg van die spina bifida kan Altus glad nie sy onderlyf beweeg nie. Hy word rond gedra of maak gebruik van sy tuisgemaakte rolstoel.

Hy het ook ‘n wond op sy stuitjie wat sukkel om gesond te word.

“Hy dra nog doeke en gaan op sesjarige ouderdom ‘n kateter kry. Al die nodige mediese onkoste en doeke is baie duur, die doeke alleen kos R3 000 per maand en hy moet na ‘n arbeidsterapeut toe gaan om hom met sy ontwikkeling te help,” sê Maryke.

Sy vertel dat sy ouboet, Hardus, baie beskermend teenoor Altus is en dat die twee volgende jaar saam na die 4Seasons privaatskool gaan waar beide tot en met gr. 7 kan bly.

Tans bly Altus by sy ouma terwyl Maryke werk. “Altus is slim. Hy is baie oplettend as dit by die roetes kom wat ‘n mens ry. Hy sal byvoorlbeeld sê ons moet na ‘n sekere winkel gaan en dan met my raas as ek ‘n ander pad ry. Hy is vreeslik lief vir mense en gesels maklik,” sê Maryke.

Die gesin is besig om geld in te samel vir ‘n spesiale rolstoel. Sodra hulle genoeg geld ingesamel het, kry Altus die rolstoel en begin hulle weer geld insamel vir die ander uitgawes, soos arbeidsterapie.

“Sy grootste droom is om te kan hardloop. Hy is ‘n ligstraal in ons lewens en ons vra nooit waarom hy met spina bifida gebore is nie. Ons sê net dankie dat ons in staat is om vir hom te sorg,” vertel Maryke.

maretha@nmgroup.co.za

 

Related Articles

Back to top button