PHS groet onnie na 3 dekades se getroue diens

"Soos ek pak vat ek PHS saam met my"

POLOKWANE – Na meer as 30 jaar as onderwyseres by Pietersburg Hoërskool het Hendriet Viljoen die stad, en die skool, vaarwel geroep.

Henriet het in 1984 na Polokwane verhuis en vertel dat sy in die begin baie gehuil het. “Ek het daardie tyd nie geweet dat ek hier van die beste jare sou beleef nie en vandag, 32 jaar later, stap ek weg gevorm en geskaaf deur ‘n skool wat altyd deel van my sal bly. Soos ek pak vat ek PHS saam met my,” vertel sy.

Een van haar hoogtepunte is dat sy vir bekende en baie suksesvolle mense soos Janus Roberts, Victor Matfield, Cindy Nel en Lyndon Ferns kon skool gee.

“Dis ongelooflik om vandag na die mense te kan kyk en te kan sê dat hulle onder my hande deur was. Onderwys is so groot en belangrike rol en mense wat dit as ‘n beroep oorweeg moet dit duidelik besef,” sê sy.

Sy spog ook met prestasies soos om die beste lewenswetenskappe onderwyser in die provinsie te wees asook die een met die meeste onderskeidings.

Sy skryf haar sukses in die vak toe aan haar passie daarvoor.

“Dis vir my hartseer om op te pak en weg te gaan. Die skool het my so baie geleer en ek het so baie saam met die skool deur gegaan. PHS is ‘n skool wat aanhoudend groei en ek bid dat mense in die stad, of hulle nou skool gee of skool gaan, moet besef hoeveel die skool beteken vir leerders.”

Sy wil graag die mense in die skool bedank wat vir haar soos familie geword het. “Die hoof en die ander onderwysers dra die skool se naam hoog. Oral waar mens kom is daar mense wat met bewondering na jou kyk want PHS is ‘n ikoniese skool, in die provinsie en de res van die land,” bieg sy.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

Exit mobile version