Vrolike vroue verf plaaslike gholfbaan pienk

Altesaam 90 vroue het verlede Saterdag tydens die vierde Kameeldoring Ladies Classic die Kameeldoring gholfbaan pienk geverf.

MOKOPANE – Die Ladies Classic is vir die skonergeslag ‘n uitsiengeleentheid hier op die dorp en die jaar is die gewilde gholfdag ten bate van Kansa aangebied.

Nadiene Brews, Dameskaptein en organiseerder van die dag, vertel: “Talle families op die dorp se lewens word op een of ander wyse deur kanker geraak. Die Kameeldoring Gholfklub het ook die jaar afskeid geneem van ‘n formidabele vrou en speler, Janet Duvenhage wat in Mei na ‘n dapper stryd oorlede is.” Brews sê verder: “Ons hoop dat die opbrengs van die dag Kansa-Mokopane tak se finansiële las kan help verlig.”

Die gees op die baan was aansteeklik met die 30 vaardige gholfers wat vir strawwe kompetisie gesorg het, terwyl die 60 nie-gholfers hope pret en plesier opgedis het. Die skonergeslag het behoorlik hulle stokke geswaai, ‘n hond uit ‘n bos gekuier en luidkeels gelag. Ilze Malan, een van die nie-gholfers sê: “Dit was gróót pret. Die gholfgogga het my nou behoorlik gebyt. Ek het sommer klaar vir my handskoene en ‘n stel stokke gaan koop.” Die dag is op ‘n hoogtepunt met ‘n wynproe, wat deur Warwick Wine Estate aangebied is, afgesluit.

Die wenners van die verskeie afdelings was as volg:

A-afdeling, Anzel van der Skyf, B-afdeling, Angelique Smith en C-afdeling, Trish Dean. Die Nie-Gholfers afdeling is deur Carli Welgemoed en Jenny Greyling gewen.

Die volgende spelers het pryse vir naaste aan die pen verwerf: Tanya Molk (putjie drie) en Kaylen Deysel (putjie 13).

Die pryse vir die langste dryfhou is deur Elzette Badenhorst (putjie nege), Desi Earl (putjie 18) en Janine Muller (putjie vyf) opgeraap.

Brews bedank al die manlike gholfers, wat die ‘nie-gholfers’ touwys gemaak het. Sy bedank ook die Kameeldoring Gholfklub en die spelers vir hulle ondersteuning. ‘n Spesiale woord van dank gaan aan al die borge wat hulle harte en beursies oopgemaak het.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version