Goeie, goue 60 jaar

Dié twee sielsgenote, Japie en Martie Visagie, het op 3 November hulle 60ste huweliksherdenking gevier.

MOKOPANE – Die jaar 1956 spog met talle hoogtepunte, onder meer het die ikoniese rock and roll kunstenaar, Elvis Presley sy debuut met ‘Heartbreak Hotel’ gemaak, maar vir Japie en Martie Visagie was hulle troudag op 3 November, onvergeetlik.
Dié twee sielsgenote het verlede Donderdag hulle 60ste huweliksherdenking gevier.
“Ek het vyfuur vanmiddag, 60 jaar terug, ‘n ring aan Japie se vinger gesteek en toe was hy myne,” sê Martie (79) met ‘n glinster in haar oë waar sy langs Japie (80) op die bank in hulle woonkamer sit.
Martie vertel hulle liefdesverhaal het in 1954 oor die telefoon begin.
“Ek was werksaam by die sentrale op Sabie en Japie het bedags in Grasskop by die poskantoor gewerk en saans het hy oortyd by die sentrale uitgehelp. Daar het ons mekaar oor die telefoon ‘gechaff’, “ sê sy met ‘n glimlag.
Japie het twee keer ‘n week 18 myl met sy fiets gery om by Martie te gaan kuier en later toe hy as posmeester na Bosbokrand verplaas is, het hy naweke by haar in Sabie gaan kuier en die pad met ‘n ou motor wat graag oorgekook het aangedurf. Japie het sy moed bymekaar geskraap en Martie se pa vir die hand in die huwelik gaan vra.
“My pa het vir hom gesê: “Sien jy hierdie seekoeisambok mag dit as ‘n vriendelike waarskuwing dien as jy my dogter sleg behandel,” skerts Martie.
“My oupa en ouma se verhouding is vir my ‘n voorbeeld van opregte liefde,” sê Dries Visagie, een van die paartjie se vyf kleinkinders. Die Visagie’s het ook twee seuns en drie agterkleinkinders.
Nie net is hulle al vir 60 jaar getroud nie, maar het hulle ook vroeërjare vir 34 jaar saamgewerk. Hulle sê die geheim tot ‘n suksesvolle verhouding is groot geloof, baie hoop, liefde en om nooit kwaad te gaan slaap nie.
Op 30 November 1992 het Japie op ‘n hoogtepunt as Area Bestuurder Noord Transvaal, asook as Posmeester Spesiale Graad B, in Potgietersrus (nou Mokopane) afgetree.
Vandag staan Japie en Martie se hande steeds vir niks verkeerd nie en spog hulle met ‘n pragtuin. Martie is is ook ‘n naaldwerkster van formaat wat met talle prestasies pronk.
Die wyse woorde van die bekende skrywer, Fawn Weaver lui as volg: “ ‘n Goeie huweliksmaat het jou lief net soos jy is. ‘n Uitsonderlike lewensmaat help jou groei en inspireer jou om jou heel beste te wees, te doen en te gee.”
Terwyl Japie en Martie vir my staaltjies uit hulle huwelik van meer as ‘n halwe eeu vertel is dit duidelik dat hulle ‘n uitsonderlike paartjie is, wat mekaar help om te groei en mekaar aanspoor om elke dag hul heel beste te wees, te doen en te gee.” Bosveld wens hulle geluk met die mylpaal.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version