Bosveld NewsNews

Bullebakkery word nie by Piet Pot geduld nie

Boeliegedrag en gevegte op die skoolterrein steek kort-kort kop uit tot so ‘n mate dat die polisievoog van Hoërskool Piet Potgieter vandeesweek die leerders toegespreek het oor dié probleem.

MOKOPANE  – Te midde van die eindeksamen wat tans afgelê word, het sers. Julia Sithole van die Mokopane Polisie tydens opening aan die leerders gesê, sy is moeg dat leerders kort-kort klagtes teen mekaar indien by die polisie,  die gedrag moet stop gesit word.
Sy het egter ook daarop gewys dat die leerders geregtig is om sake teen mekaar oop te maak. Hulle moet onthou dit kan lei tot ‘n kriminele rekord.
Bosveld het met Piet Pot se Waarnemende Hoof, Cas Badenhorst gesels oor die netelige saak.
• Wat was die rede vir die polisie se besoek?
“Wanneer die skool hulp van die polisie benodig skakel ons ons polisievoog, sers. Julia Sithole en sy verleen goeie hulp aan ons. Sithole het die skool op eie beweging besoek en toegespreek oor geweld in skole en die konsekwensies van bullebakkery aan die skool verduidelik.”
• Wat is Hoërskool Piet Potgieter se beleid rondom boelie en gevegte?
“Ons kan dit net eenvoudig nie duld nie. Bakleiery en bullebakkery word ten sterkste veroordeel en Hoërskool Piet Potgieter wil dit met wortel en tak uitroei.”
• In ons berig van 2015, ‘Basta met boelies, sê hoofde’, het toe skoolhoof Jas Hansen gesê, dissiplinêre stappe word teen die leerders geneem. Wat behels die stappe?
“Volgens die skool se gedragskode en bullebakkery beleid word bakleiery as ‘n kategorie 3 oortreding beskou. Met alle kategorie 3 oortredings word onderhoude met die kind en sy ouers gereël.
Afgesien van die strafmaatreëls word besinningsaktiwiteite soos berading, woedebestuur en intervensievoorligting ook toegepas. Dissiplinêreverhore word gehou en leerders word geskors.
• Is boeliegedrag iets waarmee HPP sukkel omdat verskeie lesers aan Bosveld gemeld het dat daar die afgelope kwartaal drie afsonderlike vuisgevegte opeenvolgend plaasgevind het?
“Daar sal altyd ‘n geveg hier en daar uitbreek. Ek sal nie sê dit is iets waarmee ons sukkel nie, maar toename van gevegte kan moeilik raak. Dit wil voorkom asof gevegte tussen kinders met die wisseling van seisoene meer gereeld voorkom en daarom is daar voorvalle van gevegte in Oktober hanteer. Dissiplinêre verhore is gehou en leerders is geskors.”
• Watter raad het julle as skool aan leerders wat tans die slagoffers van ‘n boelie is?
“Praat! Moenie stilbly nie. As jy aanmeld wat die probleem is kan dit moontlik uitgesort word. ‘n Boelie geniet absoluut die reaksie wat hy uit jou kan kry. As hy sien jy bly stil en staan nie vir jouself op nie, gaan hy aanhou, maar sodra hy sien hy gaan in die moeilikheid beland, sal hy dit stop.”
• In watter ouderdomsgroep kom boeliegedrag en vuisgevegte in die skool die meeste voor?
“Ek sal sê die meeste gevegte vind plaas onder die gr. 8-leerders, hulle is nuut uit die laerskool en jongste in die skool. Ek dink nie hulle weet waaroor dinge in die Hoërskool werklik gaan of wat hulle plek is nie”
• Is daar iemand met wie slagoffers anoniem kan gaan praat of is daar ‘n sielkundige op die skoolterrein?
“Ons het nie ‘n sielkundige op skoolterrein nie, maar ons verwys leerders gewoonlik om ds. Jaques Erasmus te skakel en gesels. Ons verwys leerders ook na maatskaplike werkers toe. Leerders kan ook by die Noodforum of by die Mokopane Voortrekker Hospitaal ‘n draai gaan maak. Die beheerliggaam oorweeg tans om ‘n voltydse berader aan te stel.”
• Dit kom voor dat die dissiplinêre stelsel van die skool nie effektief is nie. Is daar toekomsplanne om hierdie stelsel te verbeter?
“Die skool se dissiplinêrestelsel is effektief en word effektief bestuur vir voorvalle wat binne die jurisdiksie van die skool val.Ouers is egter by magte om kriminele stappe te neem wat die aangeleentheid weg van die jurisdiksie van die skool neem en word die hofproses dan gevolg.
Heelparty voorvalle wat plaasvind is nie skoolverwant nie en het die skool derhalwe nie jurisdiksie daaroor nie.” Bosveld het verskeie pogings aangewend om met die Polisiewoordvoerder sers. Irene Masingi te gesels, maar teen druktyd het sy nog nie terugvoering gegee nie.
lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button