Local NewsNewsUpdate

Berigte lei tot werk en verblyf vir oom Robbert

Nadat stories oor oom Robbert in Review begin verskyn het, het die gemeenskap na vore gekom met skoene, klere, ‘n werksgeleentheid asook verblyf

POLOKWANE – Vir Robbert Jansen is daar min wat hy nie met sy hande kan doen nie, maar na ‘n ongeluk in die boubedryf wat sy gesig geskend het en hom gevoel in sy hande laat verloor het, kon hy nie meer werk kry nie.
Jansen het in die boubedryf in die stad jare lank ‘n lewe gemaak. Oor die afgelope paar jaar moes hy ‘n lewe maak deur in skrootmetaalwerwe stukkies metaal op te tel en dit dan te verkoop. Sowat ‘n maand gelede het Review begin stories skryf oor “Oom Robbert,” soos hy bekend staan. Daar is na die eerste berig donasies ingebring van die gemeenskap en Jansen het skoene en klere ontvang. In die afgelope week is daar aan hom ‘n werk gegee waar hy sowat R5 000 per maand kan verdien in die boubedryf. “Ek staan verstom om te weet dat mense steeds omgee. Ek het nog altyd hulp gehad maar vandag kan ek op my voete kom en weet ek dat ek weer die wêreld in die oë kan kyk want ek kan nou vir myself sorg. Baie, baie dankie aan almal wat my gehelp het. Ek bid dat God my die kans sal gee om julle ook iewers langs die pad te kan help,” vertel hy.
Jansen kan nie meer self bou nie maar het die posisie van voorman by ‘n plaaslike boukontrakteur gekry.
“As ‘n reël help ek nie graag mense nie omdat daar reeds so baie mense is wat gehelp is maar nie die geleentheid aangryp nie. Van die eerste dag dat ek oom Robbert se storie in Review gevolg het, kon ek sien dat hy die uitsondering op die reël is en daarom gee ek hom die geleentheid om op sy voete te kan kom. Die res hang nou van hom af,” vertel Hassim Khala.
Khala het ook aan Jansen ‘n plek aangebied waar hy kan woon en al is dit net ‘n kamer met ‘n bed, vertel Jansen dat dit vir hom soos ‘n paleis voel.
riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button