BusinessNews

Capricorn Quilting speel gasheer vir uitnemende kwiltuitstalling

Die Koraal Kwiltgilde het Saterdag hul werke tydens die gilde se jaarlikse uitstalling by Capricorn Quilting, Platinumpark vertoon. Vanjaar se tema was ‘tweekleur’ en die mure van die uitstalruimte was volgehang met die skeppings wat lede deur die jaar gemaak het. Daar was ook verskeie gelukstrekkings deur die loop van die oggend en die wenners …

Die Koraal Kwiltgilde het Saterdag hul werke tydens die gilde se jaarlikse uitstalling by Capricorn Quilting, Platinumpark vertoon.
Vanjaar se tema was ‘tweekleur’ en die mure van die uitstalruimte was volgehang met die skeppings wat lede deur die jaar gemaak het. Daar was ook verskeie gelukstrekkings deur die loop van die oggend en die wenners het kwiltpakkies van Capricorn Quilting gewen.
Linda Oerlemans, voorsitter van die gilde het meer oor die geskiedenis van dié kuns­vorm vertel. In die 1800’s het mense in Ame­rika groot etes vir vriende en familie aangebied. Na ete het die mans eenkant gaan sit om gewigtige sake te bespreek terwyl die vrouens na die kwiltkamer verdaag het. “Die gasvrou het dan haar kwilts uitgehaal en elkeen se storie en geskiedenis aan haar gaste vertel.”
Sy meen kwilters moet nie te streng met hulself wees nie. “Wanneer mens ‘n kwilt ophou en iemand kom op ‘n perd op gallop verby en die ruiter kan geen los drade sien nie, is die kwilt goed genoeg.”
Die ‘Eendagkwilt’ van René Small was ‘n groot gunsteling. Sy het vertel dat sy by haar siek pa se siekbed gewaak het. “Op ‘n stadium het hy wakker geword en gevra waar my lappies dan is, want ek het al vir almal in die familie kwilts gemaak, maar nie vir hom nie. Ek het my kwiltwerk gaan haal en deurnag gewerk om vir hom die kwilt te maak. Twee dae later is hy dood.”
Lynne van Rensburg het vertel hoe die ‘New York Beauty’ haar uitgedaag het om helderder kleure te gebruik en Tinka Jansen het almal laat skaterlag met haar vertelling van hoe sy soms denims van haar familielede se lywe af gebedel het om haar denimkwilt te maak.

Storie en foto’s: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Hooffoto: Ann Nel, eienaar van Capricorn Quilting en Linda Oerlemans, voorsitter van die Koraal Kwiltgilde voor een van die tweekleurprojekte tydens die gilde se jaarlikse uitstalling.

Die ‘New York Beauty’ is deur Lynn van Rensburg gemaak.
Die ‘New York Beauty’ is deur Lynn van Rensburg gemaak.
René Small se ‘Eennagkwilt’ het die hartsnare geroer.
René Small se ‘Eennagkwilt’ het die hartsnare geroer.
Tinka Jansen se denimkwilt.
Tinka Jansen se denimkwilt.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button