Local NewsNews

Dwelmvonds in vermiste meisie se skuilplek

‘n Twintigjarige man het na verwagting vandag (Donderdag) in die Polokwane landdroshof op ‘n aanklag van die besit van dwelms verskyn nadat hy Dinsdagaand by ‘n woonstel in Sterpark gearresteer is. Die arrestasie is gemaak na aanleiding van die soektog na ‘n 15-jarige meisie wat sedert Maandagaand as vermis deur haar familie in Tzaneen aangemeld …

‘n Twintigjarige man het na verwagting vandag (Donderdag) in die Polokwane landdroshof op ‘n aanklag van die besit van dwelms verskyn nadat hy Dinsdagaand by ‘n woonstel in Sterpark gearresteer is.
Die arrestasie is gemaak na aanleiding van die soektog na ‘n 15-jarige meisie wat sedert Maandagaand as vermis deur haar familie in Tzaneen aangemeld is. Sosiale media het gegons oor die graad 8-meisie van ‘n bekende hoërskool in dié dorp se verdwyning en die vermoede dat sy haar in Polokwane bevind.

Verskeie sakkies wat gebruik word om dwelms te verpak is in die woonstel gevind.
Verskeie sakkies wat gebruik word om dwelms te verpak is in die woonstel gevind.

Volgens inligting het sy ‘n saamrygeleent­heid van Tzaneen na Polokwane gekry waar sy by ‘n woonstel afgelaai is. Die persoon wat die saamrygeleentheid gegee het, het later besef dat dit dieselfde meisie is wat vermis word waarna die Polokwane polisie en Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in kennis gestel is en hy die betrokke woonstel uitgewys het.
Die GPF en die polisie het vinnig gereageer, leidrade opgevolg en die meisie in die woonstel gevind.
By nadere ondersoek is op verskeie sakkies dwelms, onder meer kokaïen en dagga, beslag gelê. ‘n Selfgemaakte pyp wat gebruik word vir dwelms en verskeie leë sakkies is ook gevind.
Na wat verneem word is die meisie laat Dinsdagaand in ‘n plek van veiligheid geplaas en die polisie het die man ge­arresteer.
Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba het die arrestasie bevestig. “Die man is in besit van dwelms gevind en sal moontlik vandag (Donderdag) in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort,” het hy gesê.
Volgens inligting is die meisie terug in Tzaneen, maar is dit nie duidelik waar sy tans tuisgaan nie. Ramoshaba kon geen verdere inligting oor haar bevestig nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Die man is Dinsdagaand op ‘n aanklag van die besit van dwelms gearresteer tydens die soektog na ‘n vermiste meisie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button