HPP skoonheid soek die Mej SA kroon

Die 22-jarige Milanie Cilliers het in 2011 aan Hoërskool Piet Potgieter gematrikuleer en vandag word sy gesien as een van die land se top 26 mooiste meisies.

MOKOPANE – Milanie gaan in Maart Limpopo tydens die kroningsaand van Mej. Suid-Afrika verteenwoordig.

Milanie Cilliers (22) is as een van die top 26 finaliste vir Mej. Suid-Afrika gekies. Foto: Verskaf

Bosveld het met die skoonheid rakende haar reis tot dusver gesels.

Wie is Milanie? Ek is ‘n plattelander in murg en been met groot drome, wat nie sommer terugdeins vir ‘n uitdaging nie. Ek is ‘n ekstrovert wat versot is op mense, mode, drama, reis en buitelugaktiwiteite. Die besigheidswêreld het my nog altyd geïnteresseer en daarom het ek BCom Entrepreneurskap en Ondernemingsbestuur by die Universiteit van Potchefstroom gestudeer. Tans studeer ek mode deur die pos en ek werk as ‘n junior inhoudskrywer by ‘n sosiale media besigheid.

Het jy nog altyd aan skoonheidskompetisies deelgeneem? Nee, glad nie! Ek was ‘n regte rabbedoe gewees en my grootste droom was om ‘n wildbewaarder te word. Hierdie droom het later verander na ‘n Hollywood aktrise en uiteindelik op hoërskool het ek begin droom oor Mej. Suid-Afrika.

Ek het aan my eerste skoonheidsheidskompetisie in my eerstejaar op UV deelgeneem en is as Mej. NWU Kampus 2de prinses gekroon. In 2013 het ek die titel as Mej. Vergeet-My-Nie (NWU dameskoshuis) beklink en in 2015 is ek aangewys as die 3de prinses vir Mej. Aarde Suid-Afrika.

Wat het jou laat besluit om aan Mej. SA deel te neem? Sjoe, dit was beslis nie net ‘n impulsiewe besluit nie, maar ‘n kombinasie van verskillende aspekte. Die saadjie is in 2008 geplant toe ek die Mej. Wêreld Kompetisie gaan kyk het. Dit was egter met die ontmoeting van Melinda Bam en Rolene Strauss in 2014 wat ek finaal besluit het om die perd op te saal.

Hoe voel dit om beskou te word as een van die 26 mooiste meisies in ons land? Dit is werklik ‘n groot voorreg en ‘n eer om te weet dat die Mej. Suid-Afrika organisasie iets spesiaals in my raakgesien het.

Vertel ons ‘n bietjie meer van jou ervaring as deelnemer van die gesogte kompetisie tot dusver – wat sal jy as ‘n hoogtepunt neerpen? Al my verwagtinge is tot op hede oortref. Ons word bederf en uitgedaag om die beste weergawe van onsself te wees. Ek hoop om as ‘n sterker en wyser vrou uit die reis te tree. My hoogtepunt tot dusver was beslis die amptelike mediabekendstellingsfunksie by The Maslow Hotel in Sandton. Om uiteindelik na so ‘n lang tydperk as ‘n semi-finalis aangekondig te word is ‘n onbeskryflike gevoel.

Julle is tans in Sun City besig met werkswinkels. Vertel die lesers meer daarvan. Dit is ongelooflik hoe baie ‘n mens in so ‘n kort tydperk kan leer. Die werkswinkels hierdie week handel oor verskeie onderwerpe van sosiale media tot hoe om jou finansies te bestuur.

Die kroningsaand vind op 26 Maart plaas, hoe sal dit vir jou voel as jy as Mej. SA 2017 gekroon word?

Dit sal so ‘n groot voorreg wees om uit soveel fantastiese deelnemers gekies te word om die land te verteenwoordig. Ek glo dat alles met ‘n rede gebeur en indien die kroon vir my bestem is sal ek die geleentheid met albei hande aangryp.

Watter stempel sal jy graag op die wêreld wil afdruk? Met Suid-Afrika se ekonomiese stand en hoë werkloosheidsyfer sal ek graag wil fokus op die ontwikkeling van entrepreneurskappe en lewensvaardighede onder jongmense.

Dit sal egter nie my enigste fokus wees nie aangesien Mej. Suid-Afrika ‘n geleentheid is om terug te ploeg in die gemeenskap in alle opsigte.

Wie is jou grootste ondersteuners en het jy ‘n aanhaling wat jou na aan die hart lê? My familie en vriende is my grootste ondersteuningsnetwerk, maar ek moet byvoeg dat ek oorweldig is deur die ondersteuning wat ek vanaf die provinsie en spesifiek Mokopane tot dusver ontvang het. My pa is my grootste inspirasie en ek het by hom geleer dat absoluut alles moontlik is met die regte ingesteldheid.

My gunsteling aanhaling is: “All your dreams can come true if you have the courage to pursue them”. – Walt Disney

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version