Oom Robbert sukkel aan maar bly nederig

Daar is nie veel dinge waarvoor Robbert Jansen, of oom Robbert soos hy bekend staan, se hande verkeerd staan nie.

POLOKWANE – Hy was jare lank in die boubedryf en het ‘n bestaan gemaak deur hier en daar werk te doen vir inwoners in die stad.

Dié inkomste het tot ‘n einde gekom sowat twee jaar gelede toe sy gesig in ‘n frats bouongeluk geskend is en hy gevoel in albei sy hande verloor het.

Oom Robbert maak nou sy geldjies deur in ou skrootwerwe en besighede stukkies metaal op te tel en dit per kilogram te verkoop.

Oom Robbert Jansen sif dag in en dag uit deur stukkies metaal wat hy in skrootwerwe optel en probeer om ‘n bestaan te maak deur dit te verkoop.

Inwoners van die stad het Review gekontak om ‘n insameling vir hom te hou en hom te help om dalk net ‘n bietjie beter te kan doen.

“Hy het nie ‘n tekort aan talente nie en is ‘n vernuftige man as dit kom by die maak van oulike items uit roomys stokkies of vuurhoutjies wat hy verkoop,” vertel Janine Pretorius, een van die mense wat gereeld namens Oom Robbert metaal bymekaar maak en vir hom gee wanneer hy omkom.

Oom Robbert het nie ‘n vaste blyplek nie en vertel dat hy maar slaapplek kry waar hy kan.

“Hier is gelukkig mense wat nog bereid is om hul medemens te help ten spyte van hoe arm en geskend jy mag wees en ek wil vir hulle baie dankie sê,” vertel hy.

Hy vertel dat hy nie loop en bedel nie maar glo mens moet werk vir alles wat jy wil hê in die lewe en dit sluit in om staal, blikkies en selfs karton bymekaar te maak om iets te verdien.

Oom Robbert besit net een stel klere en met die prys van metaal wat fluktueer, gaan dit maar moeilik.

Hy benodig nie-bederfbare kos en skenkings van klere is ook welkom. Mense wat graag wil help kan Review se kantoor skakel by 015 293 9400.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

Exit mobile version