Só is hul juwele kwyt

Van Wyk (27), die eienaar van die Goudsmit, het reeds op 25 Augustus op 13 aanklagtes van diefstal onskuldig gepleit.

MOKOPANE – Twee vroue het vandeesweek in die Mokopane Streeskhof getuig hoe hulle hul duur juweliersware kwyt is nadat hulle dit aan Simoné van Wyk, gewese eienaar van die Goudsmit, gegee het vir herstelwerk.

Van Wyk (27), die eienaar van die Goudsmit, het reeds op 25 Augustus op 13 aanklagtes van diefstal onskuldig gepleit. Haar verhoor is Maandag voortgesit.

Van Wyk het na bewering oor ‘n tydperk van 12 maande in 2014 ‘n menigte kliënte se juwele tot die geskatte waarde van ‘n half miljoen rand gebuit.

Martie Augustyn, een van die klante wie se juwele vervreem is, het gedurende haar getuienis Maandag gesê: “Ek het in November 2014 drie nege-karaat goud hangertjies ter waarde van sowat R9 000 by die Goudsmit ingedien vir herstelwerk en ‘n deposito daarop betaal”. Augustyn het verder gesê: “Ek het verskeie kere opgevolg om te hoor wanneer my juwele sal reg wees, waarop Van Wyk elke keer ‘n ander verskoning gehad het. Die laaste keer wat ek na haar winkel gegaan het vroeg in 2015 was die winkel, tot my verbasing, leeg en gesluit. Ek het geen verdere kontak met Van Wyk gehad nie”.

Die tweede getuie, Debra Botha, het getuig dat sy haar verloofring in Oktober 2014 by die Goudsmit ingedien het om die diamant ter waarde van R49 000 te herset.

“Ek het in totaal ‘n deposito van R3 200 betaal en Van Wyk het gesê die ring behoort binne ‘n paar dae reg te wees. Na ‘n week het ek kort-kort opgevolg waarna sy elke keer ‘n ander verskoning gehad het. Tot op hede het ek nog nie my ring teruggekry of enige vergoeding ontvang nie,” het sy gesê.

Magistraat Gerhard Pretorius het die saak na 29 November uitgestel vir die aanhoor van verdere getuienis.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version