Bosveld NewsLocal NewsNews

Sadistiese honde’sport’

Marcelle Maritz, Bestuurder van die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Saterdagaand die wreedheid eerstehands aanskou

MOKOPANE – Maritz vertel sy het om 17:30 ‘n oproep van ‘n ontstoke inwoner ontvang, wie vertel het hy gewaar ‘n menigte honde by die Mahwelereng Stadion en vermoed dat daar onwettige hondegevegte plaasvind.

“Ek, twee van my kollegas by die DBV, en Hannes van Wyk van die Valke Buurtwag het na die stadion gehaas. Daar was sowat 18 pitbullterriers wat reggestaan het om mekaar te verskeur en een geveg het ongelukkig reeds plaasgevind.”

“Hondegevegte is een van die grusaamste vorms van dieremishandeling en dit is kommerwekkend om te weet dat dit tans op ons agterstoep plaasvind.”

Maritz sê die honde-eienaars is onkant gevang en binne etlike minute het hulle van die toneel gevlug. “Wat my egter verder geskok het, was om die hoeveelheid jongelinge te sien wat met groot opgewondenheid die wrede ‘sport’ ondersteun.”

Hondegevegte word as ‘n sadistiese bloeddorstige ‘kompetisie’ gedefinieer, waarin twee honde, wat opgelei is om te veg, in ‘n klein arena geplaas word om met mekaar te baklei vir toeskouers se vermaak en dobbel doeleindes.

“Dit is ‘n multimiljoenrand bedryf met ‘n ingewikkelde ondergrondse web wat wissel van impromptu gebeure in ‘n agterstraatjie met gesteelde honde tot ‘n sorgvuldig beplande en georganiseerde wrede gebeurtenis,” lees ‘n verklaring van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV).

Maritz sê die deelnemers van hondegevegte is bewus dat dit onwettig is en daarom skep hulle ‘n broederskap onder mekaar.

Daar word ‘n sterk boodskap uitgestuur dat indien enigiemand sou uitpraat hulle dit sou berou. Dus is die geheimhouding rondom die gevegte uiters hoog. Maritz doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om die DBV by 076 538 6291 te kontak. “Die saak sal vertroulik hanteer word,” sê Maritz.

Sy maan die gemeenskap om seker te maak dat hulle baba-hondjies, veral pitbullterriers en bullterriers (varkhonde), aan diereliefhebbers verkoop of geskenk word om te voorkom dat hulle veghonde word.

“Die dierebeskermingswet verbied alle aspekte van dié gevegte en oortreders sal vervolg word. Ek gaan die polisie se hulp inwin sodat ons hierdie sadistiese ‘sport’ spoedig kan bekamp,” sê Maritz.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button