Gee jou sente vir studente

Solidariteit Helpende Hand het ‘n nuwe studieleningprojek geloots om ‘n behoeftige leerder in Polokwane by te staan wat fondse benodig om te studeer.

POLOKWANE –  Al wat die projek vra is die kleingeld in inwoners se beursies. Dié kan in blikkies gedeponeer word by uitgesoekte plekke in Polokwane.

Die blikkies met die Sente vir Studente-kenteken is by Fast Tools, ACDC, Vleislapa Welgelegen en Empire Electric in Hospitaalpark te vind.

Hier kan kleingeld ingegooi word om ‘n behoeftige student te help.

“Hierdie projek help ook om die gemeenskap saam te snoer en deel te laat voel van ’n inisiatief wat ’n blywende impak en verskil in baie lewens kan maak,” vertel Marlien van der Westhuizen van Solidariteit Helpende Hand, Polokwane.

“Die Studiefondssentrum by hoofkantoor sal dan die fondse wat deur die Polokwane tak ingesamel word, verdubbel tot ’n maksimum van R25 000.”

Daar word gehoop dat die projek genoeg fondse uit die gemeenskap sal genereer om ’n verdienstelike kind in die gemeenskap met ’n rentevrye studielening te help.

Die projek wil in 175 dorpe ’n fonds stig om ’n behoeftige student in die gebied met ’n studielening te help. Elke dorp sal met die hulp van ’n keuringsproses die geleentheid gegun word om self te besluit watter kind by die fonds sal baat.

Helpende Hand se Studiefondssentrum het in 2016 meer as R31 miljoen uitbetaal om die drome van 1 291 studente te bewaarheid.

Vir meer inligting oor die projek, of om uit te vind hoe jy betrokke kan raak, kontak gerus vir Sue Dreyer op 072 379 2717 of besoek die winkels self en help om drome te bewaarheid.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

Exit mobile version