Bosveld NewsLocal NewsNews

Ystervrou Rina se reis na genesing

In Oktober word die wêreld ter bewusmaking van borskanker in pienk getooi en hier op Mokopane veg 'n menigte vroue die stryd.

MOKOPANE – Bosveld het by een van die ystervroue gaan kuier en oor ‘n koppie koffie het Rina Scholtz (47) oor haar ervaring gesels.

Rina vertel dit was vir haar ‘n groot skok toe kanker op 8 Oktober 2014 in haar regterbors gediagnoseer is. “Dit was die eerste keer wat ek vir ‘n mammogram gegaan het en al het van die vroue in ons familie daaraan gely, het borskanker steeds ‘n vreemde en ‘n bitter smaak in my mond gelos. Na my diagnose is ek na ‘n hospitaal in Polokwane verwys en so het nagte verbygegaan, waarvan ek onder andere die geboorte van my jongste kleinseun gemis het, maar niks het gebeur nie. In ‘n neutedop was dit tevergeefs en het ek gelukkig te hore gekom van die Helen Joseph Breast Care Clinic in Johannesburg.”

Sy vertel verder: “Ek en my man, Johan het sommer die aand in die kar voor die kliniek geslaap, want ons wou seker maak ons mis nie my afspraak nie. Na ‘n volledige ondersoek deur Dr. Carol-Ann Benn het sy vir my gesê ek gaan eers chemoterapie moet ondergaan voordat hulle my kan opereer.”

Rina het op 3 Maart 2015 met chemoterapie by die Charlotte Maxeke Hospitaal begin en op 8 Julie 2015 het sy vir die laaste keer chemo ontvang voor haar dubbele mastektomie op 17 Augustus.

Sy sê chemo was ‘n riller en dat sy verstaan waarom een van die behandelings die ‘Red Devil’ genoem word. “Die gif het my hare binne die eerste twee weke laat uitval. Ek was kort-kort naar en teen die einde het die chemo my hande en voete gebrand.” Sy vertel verder dat chemoterapie ‘n pynlike proses is, wat soms tot ses ure lank kan duur, maar sê sy met ‘n glimlag, God het my staande gehou, daar is waarlik krag in gebed en ek en die ander pasiënte het graag saamgebid.

Rina is die maandag geopereer en die Saterdag het haar dogter Christine getrou. “Ek sou dit vir niks in die wêreld gemis het nie en dit het as motivering gedien om vinniger te genees,” sê Rina.

Na die operasie moes sy elke tweede week terugkeer na Johannesburg vir ‘n volledige ondersoek, waarna sy in Desember met bestralingsbehandeling van ses weke begin het. “Ek moet erken, bestraling was vir my 100 keer beter as die chemo.”

Vandag is Rina in remissie en sy sê sy is dankbaar dat God haar ‘n tweede kans op die lewe gegun het. Die behandeling hou egter nooit op nie, sy moet steeds een keer ‘n maand vir ‘n opvolg ondersoek gaan. Sy is op kroniese medikasie en elke drie maande moet sy haarself inspuit, maar sy lewe nou voluit, sê sy.

Intussen het haar man by ons in die woonkamer aangesluit en hy sê: “Ek het nie in die aande geslaap nie, maar wag gestaan en oor my vrou gewaak. Die chemobehandeling was ‘n nagmerrie en ek het gevrees dat ek haar gaan verloor, maar God het die hef in die hand gehad en hy het haar genees.”

Luister ek na al die kilometers wat hulle moes aflê van en na Johannesburg, verblyf – en die medieseuitgawes, besef ek dit moet ‘n enorme bedrag wees. Rina lees my gedagtes en antwoord: “God het elke keer voorsien.”

Vra ek haar hoe het sy staande gebly, sê sy God was haar anker en haar man, drie dogters en familie haar veiligheidsnet. “Die komplikasies van die chemoterapie was enorm, ek het soms tydens die beproewende reis tot geneesing gewankel, ek onthou een spesifieke dag wat ek in trane uitgebars het, maar my kinders Jenine (25), Christine (21) en Nicolene (10) asook my man was my inspirasie en ek het geweet vir hulle móet ek lewe.”

Rina sê sy is dankbaar teenoor die dokters en verpleegters vir hulle puik diens en dat sy slegs met lof van die Helen Joseph Breast Care Clinic en die onkologie-eenheid by die Charlotte Maxeke hospitaal kan praat. “Jy moet die span wat jou behandel kan vertrou.”

Haar raad aan ander vegters is om positief te bly en om die reis, tree vir tree saam met God aan te pak. “Soek altyd na die silwerrandjie. Terwyl ek chemoterapie ondergaan het, was my silwer randjie die gemaklike lazyboy stoel en die vriendelike personeel en pasiënte,” sê sy met ‘n glimlag.

Rina nooi ander vegters uit om haar te kontak by 082 501 5801 al is dit net vir ‘n koppie koffie. “Ek weet dat as ‘n mens nie self daar deur is nie, is dit uiters moeilik om aan ander te verduidelik, daarom wil ek graag ander se reis help vergemaklik.” Sy doen ook ‘n beroep op alle vroue om vir gereelde ondersoeke te gaan. “Ek het ook gedink dit sal nooit met my gebeur nie, hoe vroeër die diagnose, hoe groter die kans op genesing.”

Tooi jouself in pienk die maand en ondersteun die veldtog. Bosveld salueer die ystervroue wat die stryd dapper veg.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button