Hartseer eerbetoning vir plaasaanval-slagoffers

Nadat sy die moordenaars wie haar ouers brutaal op 16 April 2000 vir ure gemartel en toe vermoor het, in die oë gekyk het, het Lita Fourie besluit om die stem vir slagoffers van plaasaanvalle te word.

MOKOPANE – Lita het die Tabita Organisasie daar en dan op die been gebring vir die “stemloses wie se lewens deur plaasaanvalle geëis is”.

Tabita verwys na die Bybelse benaming wat beteken staan op. Sy is ook die dryfkrag agter die Witkruismonument op Ysterberg sowat 30 km buite Mokopane en verlede Saterdag het sowat 50 mense van regoor die land 15 kruise ter herdenking van geliefdes wie vermoor is, hier opgerig.

Een van die 15 kruise is opgedra aan die Provinsiale Leier van die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP), Valerie Byliefeldt se broer, Pieter Grobbelaar (31), wie op 25 September 2009, drie maande voor die geboorte van sy seun, vermoor is. Pieter se dogter, Zoey (10), was slegs twee jaar oud toe haar pa vermoor is en sy seun, Pieter (6), het nooit die voorreg gekry om sy pa te ontmoet nie.

Valerie, Zoey en Pieter het saam die kruis ontvang. Zoey het almal se harte aangeraak deur op die dag ‘n huldeblyk aan haar pa op te dra. Valerie sê na sewe jaar het sy uiteindelik haar broer huistoe gebring. Die oprig van die kruise is vir die vriende en familie van die slagoffers ‘n laaste eerbetoning en dit bied vertroosting om te weet hulle moorde gaan nie ongesiens verby nie.

Een van die sprekers van die dag, Tinus Delport, het genoem, dat kerkdrag vroeërjare uit ‘n pak en ‘n das bestaan het, vandag bestaan kerkdrag, uit ‘n pak, ‘n das en ‘n vuurwapen, want meeste boere word Sondae na kerk ingewag en aangeval.

Terwyl oud en jonk die kruise van hulle geliefdes op die berg tussen die ander duisende kruise plant, spoel die woorde van ons stem deur my gedagtes ‘Nkosi Sikelel iAfrika’ (God seën Afrika)!

Belangstellendes word reeds uitgenooi na volgende jaar se eerbetoning op 2 en 3 Junie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version