Inwoner sterk tuis aan na aanval

Ek weier om in vrees te lewe maar men moet paraat wees

MOKOPANE – “Hy het vir my gesê: ‘I am going to kill you’, waarop ek terug geantwoord het: ‘doen dit, want dan sien ek weer my man’.”

Hierdie is die aangrypende woorde van Linette Klopper (58) nadat sy Saterdagoggend op haar kleinhoewe waar sy al meer as 10 jaar woon, deur twee booswigte oorrompel is.

Linette vertel sy het omstreeks 08:30 na buite gegaan om die bokke se hok oop te sluit toe die verdagtes haar met ‘n baksteen bewusteloos geslaan het.

“Toe ek my bewussyn herwin het hulle my voete en hande met draad vasgebind en ‘n stuk lap oor my mond gesit.

“Ek het my voete los gekry en so ontsnap, waarna ek na die buurplaas met my hande steeds vasgebind, gehardloop het. Die bure se seun was besig om die beeste voer te gee, toe hy my gewaar en te hulp snel.”

Die bure het die buurtwagte en omliggende boere se hulp ingewin en binne etlike minute het sowat 15 voertuie op die erf gestop. Special Operations Solutions (SOS) Medical het Linette na Mediclinic Limpopo gehaas, nadat sy ondermeer twee ribbes gebreek het. Linette sê sy het nie een van die aanvallers herken nie en dat hulle vier selfone, ‘n pistool en ‘n kamera gebuit het.

Oud-kol. Sakkie Lourens van die Heritage Protection Group (HPG) sê: “Lede van die HPG was op die toneel en hulle het die boosdoeners se spore gevolg, maar die verdagtes het hulle ontwyk”. Mokopane Polisiewoordvoerder, Sers. Irene Masingi, sê ‘n saak van huisroof word ondersoek. Geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie”.

Die kleinhoewe is al vir die afgelope 12 jaar Linette en haar oorlede man, Willem, se lushof. Sy sê nadat haar man vier maande gelede dood is, het sy besluit om op die kleinhoewe te bly en verder te bou aan hulle nalatenskap. “Ek weier om in vrees te lewe maar ek doen ‘n beroep op die gemeenskap om paraat te wees,” waarsku Linette. Sy bedank al die buurtwagte, HPG, boere en haar vriende vir hulle flink optrede en ondersteuning.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version