Provinsie se paaie eis nog drie mense se lewens

‘n Persoon is die naweek op die N1 buite Polokwane in ‘n grusame motor­ongeluk dood en twee persone het hul lewens in afsonderlike ongelukke op die R101 verloor. Die N1 was Sondag vir etlike ure gesluit na ‘n botsing tussen vier voertuie waarin ‘n persoon gesterf het. Volgens nooddienspersoneel het drie voertuie in ‘n suidelike …

‘n Persoon is die naweek op die N1 buite Polokwane in ‘n grusame motor­ongeluk dood en twee persone het hul lewens in afsonderlike ongelukke op die R101 verloor.
Die N1 was Sondag vir etlike ure gesluit na ‘n botsing tussen vier voertuie waarin ‘n persoon gesterf het. Volgens nooddienspersoneel het drie voertuie in ‘n suidelike rigting gery toe die bestuurder van ‘n Peugeot uit die teenoorgestelde rigting voor die aankomende verkeer in na die regterkant van die pad beweeg, teen ‘n Audi gebots en daarna ‘n kettingbotsing veroorsaak het. Agt ander is ernstig beseer.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag met roekeloes en nalatige bestuur as moontlike oorsaak van dié botsing.
Saterdag is twee mense in afsonderlike botsings op die R101 dood.
Een persoon is dood in ‘n grubotsing op die R101 buite Modimolle waarby ‘n motorfiets, bakkie en voertuig betrokke was. Die motorfiets en bakkie het beide met impak aan die brand geslaan.
Die tweede ongeluk op die R101, net buite Mokopane het Sondag­oggend die lewe van jong motorsport­entoesias, Louis Ruytenberg geëis nadat die bakkie waarin hy gery het, omgeslaan het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Die wrak van een van die voertuie wat Sondag in ‘n ongeluk op die N1 betrokke was. (Foto: Verskaf)

Exit mobile version