Borrelende, gewilde ovaalbaanrenjaar en motorsport­liefhebber sterf in ongeluk

‘n Geesdriftige ovaalrenjaer, Louis Ruytenberg (19) is Sondagoggend op die R101 naby Mokopane in ‘n motorongeluk oorlede. Ruytenberg was by ‘n vriend se 21ste verjaardagpartytjie in Polokwane en om 02:00 onderweg na sy huis in Mokopane toe die bakkie waarmee hy gery het, omgeslaan het. Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie en …

‘n Geesdriftige ovaalrenjaer, Louis Ruytenberg (19) is Sondagoggend op die R101 naby Mokopane in ‘n motorongeluk oorlede.
Ruytenberg was by ‘n vriend se 21ste verjaardagpartytjie in Polokwane en om 02:00 onderweg na sy huis in Mokopane toe die bakkie waarmee hy gery het, omgeslaan het. Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie en geen ander voertuig was betrokke nie.
“Hy was ‘n terggees wat besonderse sportmanskap openbaar het. Daar waar hy geloop het, het mense geglimlag en hy was geliefd onder familie, vriende en renjaers. Sy bydrae tot motorsport op so jong ouderdom kan nie ongesiens verbygaan nie en hy sal gemis word,” sê Bosveld Motorsportklub-sekretaresse en familievriend, Alta Bekker.
Sy sê die jong man se dood is moeilik om te verwerk. “Ons het twee dae voor sy dood sy pa, Louis se verjaardag gevier en niemand het gedink dat hy so vinnig van ons weggeneem sou word nie.”
Volgens klublede het Ruytenberg soveel passie vir motorsport gehad en veral ovaalresies tot so ‘n mate bemark dat hy verskeie jong mense geïnspireer het om by die klub aan te sluit.
Ruytenberg het as negejarige ‘n klublid geword en sy liefde vir motorsport begin uitleef. Hy het in die 1660-klas aan verskeie wedrenne, ook nasionaal, deelgeneem en goed presteer.
Polokwane Oval-sekretaris, Janine van Breda sê Ruytenberg was altyd opgewek en vrolik. “Die lewe was vir hom ‘n lied en hy het elke oomblik ten volle geniet. Ons innige meegevoel is met sy familie, vriende en die klub,” sê Van Breda.
Benewens sy pa laat Ruytenberg sy ma, Karien, suster, Elizka en broer, Karlo agter. Hy word vandag (Donderdag) vanuit die Volle Evangelie Kerk in Mokopane begrawe.
‘n Herdenkingswedren word op 15 Oktober by die Bosveld Motorsportklub in Mokopane vir hom gehou.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Louis Ruytenberg is Sondag in ‘n motorongeluk dood. (Foto: Facebook)

Exit mobile version