Nooddienswerker keer terug na vyf jaar in oorlogsone

Irak was deel van God se plan - Pieter

POLOKWANE – Pieter Kubannek is ‘n man met ‘n passie om ander te help want hy glo dit is wat God vir hom beplan het.

Die 41-jarige het in 2010 na Afghanistan vertrek waar hy vir ses maande as ‘n nooddienstewerker gewerk het. Aan die einde van 2010 het hy na Irak vertrek waar hy drie-en-‘n-half jaar as nooddienstewerker gewerk het.

Hy het verlede jaar teruggekeer van Irak.

“Dit was nie ‘n besluit wat ‘n mens net ligtelik kan neem nie want geen normale mens sal in ‘n oorlogsone wil gaan werk nie. Maar die geleentheid het oor my pad gekom en ek voel dit was my roeping van die Here af,” vertel hy.

Na skool het Pieter by die weermag aangesluit en na sy diensplig het hy in die sekuriteitsdienste gewerk. Later van tyd het hy in ‘n mediese rigting as nooddienstepersoneel gewerk voor sy tyd in Afghanistan en Irak.

“My pa was nog altyd in die nooddienste en ek het my passie om mense te help by hom aangeleer asook hoe om noodsituasies te hanteer.”

Pieter het sy eie nooddiensmaatskappy, PLK (Pty) Ltd waar hy sy mediese kennis en passie inspan om mense in nood te help.

“Hierdie beroep is nie regtig van so ‘n aard dat jy dit net kan leer of kies nie. Dit moet vir jou ‘n ware roeping wees want op die ou end is ons almal instrumente in die Here se hande,” verduidelik hy. “Om mense in nood te help is een van my passies, ek sal nooit iemand kan wegwys wie my hulp nodig het nie. My vrou, Lize, grap gereeld dat ek selfs die enigste klere wat ek het vir iemand in nood sal gee.”

Hy vertel dat tydens sy tyd in Irak het hy baie belangrike lewenslesse geleer soos hoe om die lewe en sy familie te waardeer en om stil te raak en al die wonders van die wêreld in te neem. Dit het ook sy band met Lize versterk omdat hulle saam deur die moeilike en maklike tye van sy tyd in Afghanistan en Irak gegaan het.

Hy sê alhoewel sy tyd in die oorlogsone hom baie verander het, het dit hom ‘n beter mens gemaak met ‘n ander tipe uitkyk op die lewe.

“Lize se ondersteuning is vir my een van die waardevolste geskenke. Ek is baie dankbaar vir haar in my lewe. Alhoewel my tyd in Irak my emosioneel en fisiek amper leeg getap het, het ek baie goeie vriendskappe gemaak aan daardie kant van die wêreld.”

Een van die vriende wie hy gemaak het was sy tolk.

“Irak is ‘n land met interessante mense, kulture en tradisies. Ons vriendskap het so sterk geword dat hulle my as deel van die familie beskou het, eers ‘n broer en toe ‘n ouderling wie saam met die familie belangrike besluite moes neem soos om vir van die familielede toestemming te gee om te trou onder andere. Die mense van Irak staan altyd saam met mekaar, maak nie saak wat nie. Ek wens soms dat ons ook so sterk saam kan staan in Suid-Afrika,” sê hy.

In sy vryetyd geniet hy dit om tyd saam met sy vrou in die natuur deur te bring, 4×4 ry en visvang. Sy grootste rolmodelle en bronne van inspirasie, sê hy, is sy pa, sy vrou en sy skoonpa.

“Ek het so baie by elkeen van hulle al geleer in my leeftyd. Hulle is almal mense met sterk waardes en persoonlikhede wie dien as my rotse in ‘n onstuimige lewe. Bo en behalwe als en almal is ek wie ek is vandag te danke aan ons Vader daar bo. Ek weet ek is nie altyd ‘n maklike mens nie maar ek probeer my bes om elke dag ‘n beter mens te wees,” sê hy.

Kubannek het ook raad aan diegene wie graag in ‘n noodhulp beroepsrigting wil gaan. “Sit en dink mooi of dit is wat jy wil doen. ‘n Mens moet emosioneel sterk wees vir sulke werk en waarlik ‘n groot passie daarvoor hê,” vertel hy.

calvyn@nmgroup.co.za

Exit mobile version