Slagting op paaie eis nóg 11 lewens

Limpopopaaie bly ‘n slagveld met ‘n kommerwekkende 24 botsings wat tot 11 mense se dood oor die naweek gelei het. Die provinsie het hoër verkeervolumes ervaar weens die Zion Christian Church (ZCC) se tweede Septemberbyeenkoms wat by Moria gehou is. Volgens die departement se woordvoerder oor verkeer, Kagiso Mootane was daar vanjaar drie minder botsings …

Limpopopaaie bly ‘n slagveld met ‘n kommerwekkende 24 botsings wat tot 11 mense se dood oor die naweek gelei het.
Die provinsie het hoër verkeervolumes ervaar weens die Zion Christian Church (ZCC) se tweede Septemberbyeenkoms wat by Moria gehou is. Volgens die departement se woordvoerder oor verkeer, Kagiso Mootane was daar vanjaar drie minder botsings vir dieselfde tydperk as verlede jaar, maar vyf meer mense het omgekom.
Die Capricorn- en Waterbergdistrikte het die meeste botsings en padsterftes beleef met ses ongelukke en vier sterftes elk, gevolg deur die Mopanidistrik waar sewe botsings twee lewens geëis het. In Sekhukhune is een persoon dood terwyl drie botsings in die Vhembedistrik ook die lewe van een geëis het.
Saterdag is twee persone op die N1 buite Mookgophong dood nadat ‘n bakkie en sedan trompop gebots het. Die twee oorledenes was passasiers en drie ander het geringe beserings opgedoen. Dieselfde dag is nog twee mense op die Mogwadipad dood nadat ‘n minibustaxi en Mercedes-Benz gebots het.
Die polisie ondersoek intussen ook drie sake van strafbare manslag nadat nog ses mense in drie afsonderlike ongelukke Maandag in die provinsie dood is.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die eerste botsing waarin drie familielede gesterf het, het naby Lebowa­kgomo gebeur. “Die voertuig waarmee hul gery het, het reg van voor teen ‘n ander voertuig gebots,” sê Ngoepe. In die tweede botsing op die R40 naby Klaserie buite Hoedspruit is twee mense dood nadat die bestuurder blykbaar beheer oor sy voertuig verloor en teen ‘n boom gebots het. Nog ‘n persoon is op dieselfde pad dieselfde dag na ‘n botsing dood. Die polisie het hulp nodig om die liggame te identifiseer en mense met inligting kan die Hoedspruit polisiestasie by 015 779 4063 skakel.
Intussen het die departement van onder­wys se woordvoerder, Naledzani Rasila bevestig dat die 69 leerders van Tshikundamalema Secondary School uit die Vhufulwi Hospitaal ontslaan is nadat die bus waarin hulle gery het Maandag in die Masisi-gebied omgeslaan het.
Volgens inligting het daar ook Maandag­aand ‘n weermagvoertuig in die Kruger Nasionale Park omgeslaan en in die Krokodilrivier beland. Niemand is beseer nie. Bestuurshoof van die wildtuin, Glenn Phillips het gesê watertenks word na die Krokodilbrugruskamp aangery om skoon drinkwater te verseker.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto’s: Verskaf

Hooffoto: Een persoon is in ‘n kop-aan-kop botsing op die R40 buite Hoedspruit dood.

‘n Botsing op die N1 buite Mookgophong het die lewe van twee mense geëis.
Die wrak van ‘n Mercedes-Benz waarin twee mense op die Mogwadipad omgekom het.
Exit mobile version