Local NewsNews

Pad versper oor stofprobleem

Inwoners van gedeeltes van die Plaas Roode­poort 744LS het Vrydagoggend ‘n serwituut­pad oor een van hul bure se eiendom met brandende motorbande en voertuie versper. Die aksie is geneem om die stofprobleem wat deur swaarvoertuie veroorsaak word, te benadruk. Elbie de Lange, eienaar van die plaasgedeelte waaroor die serwituutpad loop, sê dat die pad nie …

Inwoners van gedeeltes van die Plaas Roode­poort 744LS het Vrydagoggend ‘n serwituut­pad oor een van hul bure se eiendom met brandende motorbande en voertuie versper.
Die aksie is geneem om die stofprobleem wat deur swaarvoertuie veroorsaak word, te benadruk. Elbie de Lange, eienaar van die plaasgedeelte waaroor die serwituutpad loop, sê dat die pad nie vir gebruik deur die algemene publiek oop is nie, maar dat daar slegs ‘n reg tot gebruik deur Eskom teen die eiendom se titelakte geregistreer is.

‘n Kennisgewingbord is by die ingang van die serwituutpad oor gedeeltes van die Plaas Roode­poort 744LS aangebring.
‘n Kennisgewingbord is by die ingang van die serwituutpad oor gedeeltes van die Plaas Roode­poort 744LS aangebring.

“Vandat die Roodepoortpad by Meropa Casino and Entertainment World gesluit is om vir die konstruksie van ‘n brug voorsiening te maak gebruik almal, veral konstruksievoertuie en vragmotors, die pad en veroorsaak ‘n erge stofprobleem. Ons het ‘n kennisgewingbord by die ingang van die serwituut uit die Roode­poortpad opgerig om aan te dui dat dit ‘n privaatpad met ‘n snelheidsbeperking van 30 km/h is en dat vragmotors nie toegelaat word nie, maar dit help niks. Die vragmotors jaag teen ‘n hoë spoed en veroorsaak ‘n permanente probleem,” sê De Lange.
Fanie van Jaarsveld sê dat sy dogter so deur die stof aangetas is dat sy mediese behandeling moes ontvang. ‘n Buurman wat anoniem wil bly, sê dat die kontrakteur wat vir die padwerke by die brug verantwoordelik is onlangs die pad geskraap het en beloof het dat dit gereeld natgemaak sal word. “Daar het egter dadels van gekom. Ons het geen ander opsie gehad as om die pad te versper om reaksie te kry nie,” sê hy.
‘n Woordvoerder van KBK Raadgewende Ingenieurs, wat vir die projekbestuur van die N1 verbypad verantwoordelik is, het aange­voer dat die pad gereeld natgespuit word.
“Ons het inderdaad die pad gegruis, die skouers afgerond en spoedwalle aangebring. Ons ondersoek tans ook maniere om die stof verder te beperk,” sê hy.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Hooffoto: Inwoners van gedeeltes van die Plaas Roodepoort 744LS versper die pad met brandende motorbande.

Related Articles

Back to top button