Local NewsNews

Nuwe groepbevelvoerder van polisie pleit vir betrokkenheid, kommunikasie, paraatheid

Suksesvolle arrestasies van misdadigers word gekortwiek deur ‘n gebrek aan inligting en is tans die polisie se grootste struikelblok in hul onverpoosde misdaadvoorkomingspogings. Dit is volgens die nuutaangestelde Polo­kwane polisie se groepbevelvoerder, Jan Scheepers wat graag wil hê inwoners moet by misdaadvoorkoming betrokke raak. “Mense kyk eerder anderpad of bly stil om­dat hulle bang is …

Suksesvolle arrestasies van misdadigers word gekortwiek deur ‘n gebrek aan inligting en is tans die polisie se grootste struikelblok in hul onverpoosde misdaadvoorkomingspogings.
Dit is volgens die nuutaangestelde Polo­kwane polisie se groepbevelvoerder, Jan Scheepers wat graag wil hê inwoners moet by misdaadvoorkoming betrokke raak.
“Mense kyk eerder anderpad of bly stil om­dat hulle bang is of omdat hulle nie betrokke wil wees wanneer dit by verklarings as ooggetuies of selfs hofverskynings kom nie. Mense is ook bang om inligting te deel omdat dit dalk by die verkeerde persoon kan uitkom en hul dan die teiken van misdadigers maak,” sê Scheepers.
Dié mening loop parallel met Scheepers se droom om ‘n hegte band met die Polokwanegemeenskap te vorm en saam misdaad te beveg.
“Mense se persepsie oor die polisie en misdaad moet verander. Ons moet mekaar vertrou en kommunikeer om saam oplossings te vind. Die gemeenskap moet by polisiëring betrokke raak juis omdat die gemeenskapspolisiëringforum (GPF) ‘n mondstuk vir die gemeenskap is en ek op wil deur die GPF ‘n verbintenis met elke man op straat vorm,” sê Scheepers.
Na byna twee maande agter sy nuwe lesse­naar is hy vasbeslote om verandering teweeg te bring.
“Wit of silwer voertuie, veral Toyotas is onder die gewildste voertuie wat gesteel word, want dit is maklik om vinnig oor te verf. ‘n Nuwe tendens wat kop uitsteek en waarin ons reeds arrestasies gemaak het, is mense wat vals verklarings vir versekeringdoeleindes aflê. Motordiefstal, diefstal vanuit motorvoertuie, huisbraak en kontakmisdaad soos moord en aanranding bly steeds ‘n probleem.”
Scheepers sê misdaadsyfers is nie net ‘n wekroep vir die polisie nie, maar ook vir die gemeenskap.
“Die polisie is nie aan die slaap nie en niemand kan vir my sê die polisie werk nie. Die afgelope naweek is 105 arrestasies alleen in die Polokwanearea gemaak. Dit sluit sake wat aanhangig gemaak en met ‘n arrestasie opgevolg is, uit. Ons het genoeg mannekrag en hulpmiddels, maar ons kan nie misdaad alleen beveg nie,” sê hy.
“Misdaadbekamping begin by jouself. Wees paraat, sluit by die GPF aan, leer jou bure ken, deel inligting en wees betrokke.Misdaad is hoog, dit is die realiteit, maar raak deel van die oplossing.”
Die polisie probeer om sover moontlik proaktief op te tree. “Daar word gereeld patrollies gehou en ons fokus op brandpunte. Maar soos in enige ander plek in die land, skuif misdadigers na die volgende gebied as jy hul verjaag.”
Hy sê die toestroming van buitelanders bepaal nie misdaad nie, maar geleentheid wat vir misdadigers geskep word, is die bron van kwaad.
Probleemgebiede sluit tans Polokwane se sakekern, Bendor, Hospitaalpark en Florapark in.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Jan Scheepers in onlangs as Polokwane groepbevelvoerder aangestel en is vasberade om saam met die gemeenskap misdaad te beveg.

Related Articles

Back to top button