Die soen, soen lekker ou soen!

BOSVELDPRAATJIES: Soen is seker so oud as die mens self, net met tyd dalk meer verfynd geraak of dalk meer intens?

Almal het gesoengroet van Oupa tot klein, kleinagterkind, van neef tot neef, broer tot broer en niggie tot suster. Almal het met die mond op die mond gegroet, en indien nie, word die mond gou gerek.

Uit Europa het die groet gespoel wat ek redelik baie van hou … die wang soen,veral waar daar vrot asems betrokke is, want ‘n stink asem bly ‘n stink asem, en vrot tande ruik soos vrot tande.

Maar tegnieke het ook verander, verbeter of versleg. Ek wil by die eerste deel oor die familie of vrinne se soengroete stilstaan.

Ek het by baie van die skonergeslag al die klagte gehoor van die Oom Koos se tipe soene.

Hoeveel keer het ek nie al gehoor hoe word daar gegril as oom Koos beginne aantree vir ‘n groet nie.

Dit is daai oopbek-nat-suig-soen met die vlesige lippe. Soms word dit vergesel van twee vingers op die linkerboud, twee op die regterboud en die middelvinger wat gleuf-anker probeer soek.

Dan is daar die Ant Hessie soen. Eers word jy versmoor tussen twee sagte, afgestorwe boesems, en net sodra jy snak na asem, dan tref daai warm, paplippe met die steeksnor jou.

Jy ruik knoffel, kaneel, haarlemensis en Goya talkumpoeier, en dan die doodskoot… die arm wat jou verswelg en in jou oor bulder “Is daar darem al ‘n nooientjie?”

Dan daai swymel, demmit, wens ek was ouer soen. Dié wat jy van jou jongste tannie afkry (skaars ‘n halfuur tye perd ouer as jy), en daai een wat julle lippe aan mekaar sweis, middellyf, en meer daai ogies wat fluister “Jy kan jammer wees ek’s jou antie.”

Natuurlik die een wat die opwindendste behoort te wees, maar soms ‘n naskop het, is die een met jou mooi niggie.

Laaste keer was sy nog vlegsels, knopknieë en sproete, maar nou is sy beeldskoon, sag en so soenbaar. Maar as jy daai lippies so los, dan vermorsel sy vir jou. “Ou, neef! Maar jy’t dan al baard gekry?”

Dan sien jy ou vriende van 35 jaar terug. Jy en Faan blad mekaar, tel hare, veral die gryses en kaalkolle, en dan sê hy … “Jy kan mos vir Sannie onthou?”

Jy knik versigtig, maar sy pluk jou nader en suigsoen die jare weg, en fluister … “Ek soek jou nog steeds!”

Jy kyk na haar wederhelfte, of is dit wederkwart? en jy dink so by jouself … as ‘n man wragtig gekry word, dan lyk hy so – bles, grys, verwese, en o so gehoorsaam.

Dis dan wat jy vir jouself sê niemand kan soen soos sy nie, maar waar de hel is sy, en wat is haar naam?

Exit mobile version