Ansa Smit is ‘n hedendaagse Emily Hobhouse

Ansa Smit, 'n boorling van Mokopane, het onlangs deel gevorm van die Kansa-familie hier op die dorp, as diensleweringsvrywilliger.

MOKOPANE – Ansa vertel dat daar op die oomblik meer as 80 inwoners is wie die kankerstryd dapper veg en dat sy graag meer sal wil doen om elkeen van hulle by te staan, maar dat daar ongelukkig tans net drie vrywilligers op die dorp is.

“Dit is  ‘n eer om ander se nood te help verlig”

“Ons het meer vrywilligers nodig. Al kan jy net ‘n uur van jou tyd afstaan om ‘n helpende hand te verleen maak dit reeds ‘n groot verskil,” maan sy.

Ansa sê sy het self vir ‘n wyle onder ‘n wanindruk verkeer dat Kansa slegs geld insamel vir navorsing, maar dat sy vinnig geleer het dat die organisasie uit drie bene bestaan naamlik: navorsing, onderrig en ondersteuning.

Kansa vier vanjaar hul 85ste bestaansjaar en vandag speel die organisasie ‘n leidende rol in kankernavorsing en die ontwikkeling van die beleid en beheer van kanker sowel as die voorsiening van sorg, ondersteuning en opleiding aan Suid-Afrikaners wie geraak word deur hierdie gevreesde siekte. Sy sê opgewonde hulle beoog om binnekort ‘n Kansa kantoor hier in Mokopane te open.

“Regoor die wêreld word families se lewens op ‘n daaglikse basis deur kanker geraak en vir 85 jaar bied Kansa al antwoorde op hulle vrae en ‘n breë skouer om op te huil. As vrywilliger kan jy help om die pasiënt se somber omstandighede helder in te kleur,” sê sy.

Ansa vertel verder dat inwoners kan help deur pasiënte te besoek, goedere te help vervoer, tegniese hulp te verleen, of om bv. ‘n Kansa stalletjie by ‘n byeenkoms te beman.

Vir diegene wat belangstel bied Kansa ook gratis pasiëntsorgopleiding.

Inwoners wat as vrywilligers wil dien, kan vir Ansa by 083 272 2196 kontak. Lesers kan ook Kansa se Facebookblad Cansawaterberg vir meer inligting volg.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version