Springbokke se slagting en ander skelmstreke op kykkassie beloer

BOSVELDTELESCOOP: Sit 'n groepie vriende mos verlede Saterdagoggend gestewel en bevoorraad voor die kykkassie om die groot slagting in Christchurch te aanskou.

Slagting was dit gewis, met die Springbok waarvan omtrent net die nersderm en ‘n agterkloutjie oorgebly het.

Genadiglik kan daar Saterdag geen verdere kuikenmoord teen die Springbokke gepleeg word nie, maar ek sê niks van die twee Saterdae daarna nie. Dit het ‘n vriend, gebore optimus, egter laat reken hy gaan dan maar na die heruitsending van die toets kyk. Miskien, net miskien, speel die Bokke dan beter na ‘n week se ruskans op video in die ivoortorings van die SABC.

Dus, wat anders was nou eintlik nuus die afgelope week? Die SAL is besig om in die grond vas te vlieg onder die beweerde uitsonderlike leiding van Tannie Dudu, wie blykbaar voortaan ook een of ander leidende rol in watervoorsiening in KZN gaan speel. As ek nou ‘n Nataller was, het ek dadelik vir my ‘n boorgat laat boor, selfs van die tiende verdieping van ‘n woonstelgebou af. Minstens sal ek dan water vir my whisky hê wanneer die Bokke teen Madagaskar verloor. Hoor ek iemand sê Madagaskar speel nie rugby nie? Toemaar, die Bokke ook nie.

Al meer skelmstreke oor lokomotiewe wat ten duurste vir PRASA aangekoop is, kom op die lappe en by almal is daar vingers wat terugwys na die Hoofman van Nkôndla se kraal.

Tannie Tina vertel ons ewe suutjies dat ons ‘n klomp nuwe kernkragsentrales gaan kry, vanaf Rusland nogal. Was Chernobil nie iewers in Rusland nie? Ewenwel, die grootste openbare tender in Suid Afrika se geskiedenis is blykbaar ‘n voldonge feit teen die bedraggie van R1 biljoen (om dit meer verteerbaar te maak, dis R1 000 miljard of in Engels R1 trillion).

Net jammer dat die geskiedenis wys dat die uiteindelike bouprys van ‘n kernkragsentrale gemiddeld 117% duurder is as die aanvanklike bedrag. Dink dus eerder R2 170 miljard.

Nou wonder ek mos net hoeveel daarvan voor 2019 (die volgende algemene verkiesing) haastig spandeer gaan word sodat sakke verder deur korrupsie gevul kan word.

O ja, na die soveelste keer wat sy presidensiële straler hom in die steek gelaat het, het die land se nommer een met meer as gewone fanfarade per SAL New York toe gevlieg.

Volgens die jongste verslag van Die Suid- en Oos-Afrika Konsortium vir die Monitering van Onderwysgehalte (SacMeq) het ons onderwysers se leesvaardighede nou verstommende hoogtes bereik.

Daarvolgens kan 18,2% afleidings maak uit wat hulle lees, 43% kan analities lees en 32.9% kan krities lees. Nee, ongelukkig word niks gesê oor hoeveel nie kan lees nie.

Nou wonder ek word matriekafskeid, klipgooi, skoolafbrand en hoe om onderwysers op sosiale media te teister nou as verpligte skoolvakke oorweeg!

Exit mobile version