Local NewsNews

Gideon se gawe bring genesing vir ander

Gideon Grobler is 'n inwoner van die stad wat streef om ander mense in nood te help met sy terapeutiese- en beradingsdienste, gratis.

POLOKWANE – Hy het ook aangebied om Kosie Wessels, die kind wie onlangs sy hand in ‘n vuurwerkongeluk verloor het, te help om sy verlies en besering te verstaan en verwerk.

“Ek het in Polokwane grootgeword en by Hoërskool Pietersburg my skoolloopbaan voltooi. Daarna het ek by die weermag aangesluit en my militêre diensplig voltooi. Terwyl ek by die Departement van die Ou Transvaalse Onderwys Beplanning van Skole gewerk het, het ek indiensopleiding gekry.”

Deel van sy werk was om te besluit watter skole waar gebou moet word, of dit nodig is vir koshuise en ook om toekomstige beplanning vir skole te doen. Hy was bevelvoerder van die Landelike Kompanje by die Pietersburg Kommando en hoof van die Burgerlike Landelike Beskerming. “Daar het ons krisisbestuur soos brandbestryding gedoen en geleer hoe om mense te versorg in die geval van ‘n noodtoestand. Noodhulp was ook deel van ons opleiding,” vertel hy.

Deesdae doen Gideon voltyds berading. Hy is ‘n gekwalifiseerde huweliksberader en doen ook traumaberading.

“Ek doen daarby ook persoonlike berading en is gekwalifiseer as Christelike berader met ‘n gevorderde diploma. My werk as berader sluit ontlonting in en indien ek opmerk dat iemand kenmerke van ‘n psigotiese geestestoestand toon, verwys ek hulle na die geskikte instansies en persone. Dit is my passie om met mense te werk en hulle te help. Ek is op my gemaklikste wanneer ek met mense werk. Ek beskik oor twee geestelike gawes en kan mense genees met behulp van God, dit word teopneustiese berading genoem,” verduidelik hy.

Hy vertel in die geval van traumagenesing hoef hy niks te sê nie. Hy delf diep in die persoon se siel in en doen dan berading en genesing direk met die siel. Met gebedsgenesing bid hy oor die situasie en vra hulp van God.

“Ek vra eers vir God of ek vir die persoon kan bid. Hy sal dan ja of nee antwoord. Ek doen niks sonder God se goedkeuring nie. Mense moet verstaan dat ons denkvermoë nie dieselfde is as God s’n nie. Ons moet op God en Sy beslissings vertrou. Nie almal se ondervinding is dieselfde nie.”

Hy vertel dat hy nie hulp aan mense mag weier nie en as hy ‘n nie-Christelike persoon moet help, dan gebruik hy slegs suiwer akademiese metodes. “Ek bid nie altyd nie. Ek respekteer ander mense en hulle oortuigings. My motief is dat elke persoon verskil en daarom moet ‘n mens jou nie met ander vergelyk nie. My oordeel is ook nie altyd reg nie.”

Gideon glo dat wanneer ‘n mens self in liefde funksioneer, kan jy die liefde en mooi in ander raaksien. Elke persoon bepaal dus hoe ander hulle behandel.

Hy het gereeld by Hieb (Hulp in elke behoefte) gepreek en hy is die geestelike beradingshoof van die Mighty Men Conference Bosveld. Hier het hy ‘n span van 46 mense wie hom help om die mans van raad te voorsien.

“Ek glo bediening moet onder ‘n gemeente val. Tans preek ek by die Doornkraal Feesterrein onder die vaandels van Huis van Bedieninge. My siening is dat as jy tyd en kennis het, moet jy mense help. My ‘tiende’ betaal ek met my tyd. Mense is baie belangrik vir my en ek kan enige tyd gekontak word deur die wie my hulp nodig het.”

In sy vryetyd spandeer hy tyd in die natuur saam met sy kinders of werk in sy kruietuin.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button