Ongetroude pa’s – leer meer oor jou regte

Eulogia de Wet, maatskaplikewerker van die Mokopane Noodforum deel haar regte-kennis.

Ongetroude pa’s beland amper daagliks in ‘n situasie dat die biologiese ma van hul kinders uit ‘n saamwoonverhouding besluit dit werk nie meer vir haar nie en dan hulle kind(ers) vat en die huis verlaat om op haar eie te gaan woon of terug na haar ouers te gaan.

Dit is hier waar baie pa’s dan aan die kortste ent trek en in baie gevalle magteloos is omdat sy kinders van hom weerhou word, sê Eulogia de Wet, Maatskaplikewerker van die Mokopane Noodforum. Sy deel haar kennis oor ongetroude pa’s se regte met Bosveld se lesers.

“Om sodanige dispute te hanteer het die nuwe Kinderwet, nr. 38 van 2005, die ouerlike verantwoordelikhede en regte van die ongetroude vader uitgelig in artikel 21, terwyl artikel 22 handel oor die werkswyses om sodanige ouerlike verantwoordelikhede en regte te bekom.

Artikel 22 – Ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkomste maak voorsiening dat:

(1) Behoudens subartikel (2) kan die moeder van ‘n kind, of ander persoon wie ouerlike regte en verantwoordelikhede ten opsigte van ‘n kind het, ‘n ooreenkoms aangaan wat voorsiening maak vir die verkryging van sodanige ouerlike regte en verantwoordelikhede ten opsigte van die kind as wat in die ooreenkoms uiteengesit is, met –

(a) die biologiese vader van ‘n kind wat nie ingevolge artikel 20 of 21 of deur ‘n hofbevel ouerlike regte en verantwoordelikhede ten opsigte van die kind het nie; of

(b) enige ander persoon wie ‘n belang het by die versorging, welsyn en ontwikkeling van die kind.

(2) Die moeder of ander persoon wie ouerlike regte en verantwoordelikhede ten opsigte van ‘n kind het kan by ooreenkoms alleenlik daardie regte en verantwoordelikhede wat sy of daardie ander persoon ten opsigte van die kind het ten tye van die sluiting van sodanige ooreenkoms aan ‘n persoon bedoel in subartikel (1) toeken.

(3) ‘n Ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkoms moet in die voorgeskrewe formaat wees en die voorgeskrewe besonderhede bevat.

(4) Behoudens subartikel (6) tree ‘n ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkoms alleenlik in werking indien –

(a) dit geregistreer is by die gesinsadvokaat; of (b) dit ‘n bevel van die Hoë Hof, ‘n egskeidingshof in ‘n egskeidingsaangeleentheid of ‘n kinderhof gemaak word by aansoek deur die partye tot die ooreenkoms.

(5) Voordat ‘n ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkoms geregistreer word of voordat ‘n ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkoms ‘n hofbevel gemaak word moet die betrokke gesinsadvokaat of hof tevrede wees dat die ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkoms in die beste belang van die kind is.

(6) (a) ‘n Ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkoms wat geregistreer is deur die gesinsadvokaat kan gewysig of beëindig word deur die gesinsadvokaat op versoek

(i) van ‘n persoon wie ouerlike regte en verantwoordelikhede het ten opsigte van die kind;

(ii) van die kind wie optree met die toestemming van die hof; of

(iii) van enige ander persoon wie in die kind se belang optree met die toestemming van die hof.

(b) ‘n Ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkoms wat ‘n hofbevel gemaak is kan alleenlik gewysig of beëindig word op versoek –

(i) van ‘n persoon wie ouerlike regte en verantwoordelikhede het ten opsigte van die kind;

(ii) van die kind wie optree met die toestemming van die hof; of

(iii) van enige ander persoon wie in die kind se belang optree met die toestemming van die hof.

(7) Alleenlik die Hoë Hof kan ‘n ouerlike regte en verantwoordelikhede ooreenkoms wat betrekking het op die voogdyskap van ‘n kind bevestig, wysig of beëindig.”

Eulogia sê gesien in die lig van uiteensetting van artikel 20 van die Kinderwet sou haar raad as Maatskaplike werker aan hierdie pa’s wees om reghulp in te win en die saak na die gesinsadvokaat te neem. So word verseker dat ‘n korrekte en weldeurdagte ouerlike verantwoordelikheid en regte ooreenkoms saamgestel word in samewerking met die biologiese mamma van jou kind om te verseker dat beide partye hulleself verbind tot die ooreenkoms ter wille van die beste belang van jul kind of kinders.

Vir enige navrae rakende die Kinderwet en regte wat daarmee gepaard gaan, kan lesers Eulogia by die Mokopane Nood Forum in Thabo Mbekirylaan gaan sien.

Exit mobile version