Jong skoonhede wen verskeie titels

Die dorp spog nie net met een skoonheidsprinses nie, maar met twee.

MOKOPANE – Die nege-jarige Welita Lee en die vierjarige Claudine Vorster het onlangs die Miss Strawberry-titels in hulle onderskeie ouderdomsgroepe in Brits gewen.

Beide die skoonhede is lede van die Limpopo Beauty Modeling Academy en onder die leiding van Katryn Barwise het hulle al ‘n menigte kere ‘n wen serp oor hul koppe getrek.

Terwyl Bosveld die twee skoonhede onder die bome by die Park Hotel afneem, is dit ooglopend dat hulle klein maar getryn is.

Welita het einde 2012 by die Modeling Academy aangesluit en vandaar het sy al groot hoogtes bereik. Sy het onder meer die gesogte titel as Miss Observer, Polokwane Top Model en Miss Bushveld Africa verower. Welita is tans hard aan die oefen vir Miss Million Dollar en Queen of the North waarin sy later vanjaar gaan meeding. Wanneer jy haar vra wat is vir haar die lekkerste van die skoonheidskompetisies dan sê sy met ‘n stroopsoet glimlag “om te wen”.

Claudine het haar modelloopbaan in Februarie begin en met haar oulike verhoogpersoonlikheid het sy al talle harte gesteel en reeds drie titels verwerf. Sy is die jaar as Polokwane Top Model in die 4-6 ouderdomskategorie, Miss Summer Glitz SA en verlede naweek as Little Miss Strawberry gekroon.

Dit is duidelik dat die modelskool ‘n gesonde selfbeeld by die twee jongelinge slyp en dat hulle versot is op grimering, spoguitrustings en hakskoene. Katryn Barwise, Hoof Uitvoerende Bestuurder van die Limpopo Beauty Academy sê: “Welita en Claudine is twee toppresteerders by die Mokopane tak. Hulle het Saterdag weereens gewys wat in hulle steek nadat hulle albei met die kroon in hul onderskeie ouderdomsgroepe weggestap het. Hulle knap vaardighede in redenaarskuns het verseker dat hulle uitstaan en só die beoordelaars betower.” Barwise sê sy is baie trots op hul spogprestasie, veral omdat hulle teen ander gesoute modelle meegeding het.

 

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version