Misdaadsyfers in Limpopo skok

Die polisie in Limpopo sal daadwerklik moet optree om misdaad hok te slaan nadat die provinsie se misdaadsyfers kommerwekkend oor die afgelope jaar gestyg het. Motorkapings, dronkbestuur en rooftogte op nieresidensiële persele het met dubbele persentasiepunte die hoogte ingeskiet. Limpopo is die enigste provinsie wat volgens die polisie se 2015/16 misdaadstatistiek, ‘n styging in byna …

Die polisie in Limpopo sal daadwerklik moet optree om misdaad hok te slaan nadat die provinsie se misdaadsyfers kommerwekkend oor die afgelope jaar gestyg het.
Motorkapings, dronkbestuur en rooftogte op nieresidensiële persele het met dubbele persentasiepunte die hoogte ingeskiet.
Limpopo is die enigste provinsie wat volgens die polisie se 2015/16 misdaadstatistiek, ‘n styging in byna al die misdaadklassifikasies toon met 20 van die 27 indelings wat toegeneem het.
Huisbraak, winkeldiefstal, besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, dwelmverwante misdrywe, seksuele misdrywe wat weens polisie-ondersoeke ontdek is, vragmotordiefstal en bankrooftogte het afgeneem terwyl ernstige misdrywe soos seksuele oortredings (1,3%), poging tot moord (10,3%), aanranding (8,4%) en rooftogte met verswarende omstandighede (9,8%) toegeneem het.
Alhoewel moordsyfers in al die provinsies behalwe die Noord-Kaap gestyg het, is daar ‘n aansienlike afname in ander misdrywe regoor die land.
Mpumalanga lê tweede op die lys met 15 misdaadklassifikasies wat gestyg het terwyl Noord-Kaap en Noordwes derde is met 13 indelings wat ‘n styging.
Op stasievlak het die Seshego-polisiestasie die swakste van stasies in die Polokwane-omgewing vertoon met 17 kategorieë wat gestyg het. Mankweng het stygings in tien, Westenburg nege en Polokwane sewe kategorieë aangeteken.
Opsomming van Limpopostatistiek
Kontakmisdaad teen ‘n persoon
Limpopo toon ‘n styging van 15,6% in moorde, 121 voorvalle meer as die vorige boekjaar, terwyl poging tot moord met 10,3% gestyg het.
Rooftog met verswarende omstandighede het met 600 (9,8%) meer voorvalle gestyg terwyl 765 meer voorvalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangemeld is. Kontakmisdaad in die algemeen styg met 6,4%.
Eiendomverwante misdaad
Inbrake by nieresidensiële eiendom, motordiefstal, diefstal vanuit ‘n motor en veediefstal styg onderskeidelik met 4,8%, 16,5%, 1,3% en 5,4%.
Misdaad wat weens polisie-ondersoeke ontdek is 
Limpopo is die afgelope paar maande deur grubotsings gekenmerk met verskeie mense wat hul lewens op die provinsie se paaie verloor het. Alhoewel die verkeersdepartement telkemale spoed en roekelose en nalatige bestuur as oorsaak toeskryf, blyk dronkbestuur ook ‘n groot faktor te wees. Nege honderd twee en negentig meer sake van dronkbestuur is aangemeld – ‘n styging van 28,9%.
Subkategorieë van verswarende rooftogte
Transitorooftogte het aansienlik met 44,4% gestyg terwyl motorkaping met 30,4% toegeneem het. Met die onlangse toename in aanvalle op die Nirvana-gemeenskap en selfs dele in Mokopane is dit geen verrassing dat motorkapings en rooftogte by residensiële eiendomme met 18,4% toegeneem het nie. Twee honderd en tagtig meer rooftogte is by residensiële persele aangemeld.
Stasievlak
Polokwane en Seshego toon onderskeidelik ‘n 27,3% en 6,3% toename in moord terwyl Westenburg (42,3%) en Mankweng (18,2%) ‘n afname toon. Soos op provinsiale vlak het Polokwane en Mankweng meer bestuurders wat onder die invloed van alkohol bestuur. ‘n Totaal van 91,7% meer voorvalle is in Polo­kwane aangemeld terwyl Mankweng met 56,3% toeneem.
Die grootse persentasieverskille blyk in Seshego te wees met toenames in aanranding met die doel om te beseer (15,5%), aanran­ding (10,6%), huisbraak (19,6%), motordiefstal (16,8%), veediefstal (38,3%), kommersiële misdaad (46%), winkeldiefstal (48,8%), onwettige besit van vuurwapens en ammunisie (20%) en dronkbestuur (19,7%).
Nie die provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe of die kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo kon vir kommentaar bereik word nie.
“Hoe meer lede daar in die Polokwane Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is, hoe groter is die kans om ons doel as oë en ore van die polisie te bereik. Die GPF se hoofdoel is om misdaad te rapporteer. Met die suksesvolle groei van die GPF is dit geen verrassing dat die misdaadsyfers styg nie omdat meer misdrywe gerapporteer word,” sê Johan Retters, forumskakelbeampte.
Die provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba en LUR vir vervoer, veiligheid, seku­riteit en skakeling, Mapula Mokaba-Phukwana sal na verwagting môre (Vrydag) die provinsiale misdaadstatistiek by die provinsiale wetgewer in Lebowakgomo bekendmaak.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version