Aretha Tehuis gaan steeds voort

Met die onlangse afsterwe van Ina Koen wie bekend was vir haar jare se betrokkenheid by die Aretha Tehuis in die stad, het talle belangstellende lesers Review gekontak om te hoor wat van die tehuis gaan word.

POLOKWANE – Ina, matrone en inwoner van Aretha Tehuis in Burgerstraat is onlangs oorlede.

Vriendin van Ina en waarnemende bestuurder van die tehuis, Annelie van Niekerk, het aan Review verduidelik dat die mense wie reeds jare lank in die huis woon, stadig maar seker oor die skok van Ina se dood begin kom.

“Baie van die oumense sukkel om die nuus te verwerk. As hulle na haar vra kan ek maar net probeer verduidelik dat ‘mamma’, soos ons haar geken het, nie meer met ons is nie. Ons verlang baie na haar maar gaan nie toelaat dat haar harde werk daarmee heen gaan nie.

“Ons is vir baie van die mense die enigste heenkome en alles gaan bly soos dit nou is,” sê sy. Sy vertel dat die inwoners die nuus swaar verwerk omdat Ina die tweede lid van die familie is wie in dieselfde jaar oorlede is.

Vroeër vanjaar is Ina se seun, Paul Geldenhuis, ook oorlede.

“Die nodigste behoeftes in die tehuis is veral toiletware en onbederfbare kos.

“‘n Mens kan nooit genoeg kos hê nie en met sowat 33 monde om te voed, is dit ‘n groot taak om aan te pak.” vertel Annelie. Diegene wie ‘n skenking aan die tehuis wil maak kan hulle by 072 397 2612 of 082 758 5774 kontak vir enige inligting.

riana@nmgroup.co.za

Exit mobile version