BlogsBosveld NewsNewsOpinion

Só sê die Kinderwet oor jou regte, pligte

Eulogia de Wet, maatskaplikewerker van die Mokopane Noodforum deel haar regte-kennis.

As ouers wag ons nege maande vir ons kinders se geboorte en dan op ‘n dag is daardie nuwe bondeltjie lewe in ons hande.

Daar is geen groter vreugde as om dié wonderwerk te aanskou, maar daar rus ‘n nóg groter verantwoordelikheid om hierdie nuwe mens te lei, te vorm en ‘n persoonlikheid te gee sodat hul die lewe volwaardig kan aanpak. Dit is geen geringe taak nie en verg lewenslange toewyding.

Aan die woord is Eulogia de Wet, maatskaplikewerker by die Mokopane Noodforum wie baie navrae oor ouers se regte ten opsigte van hul kind kry. Sy deel vandeesweek haar kennis oor die Kinderwet, Wet 38 van 2005, wat handel oor ouers se regte en pligte ten opsigte van hulle kinders.

Ingevolge die Kinderwet kan ‘n ouer volle of spesifieke regte en verantwoordelikhede hê met betrekking tot hul kind. Die ouerregte en verantwoordelikhede sluit in om die kind te versorg, kontak mee te behou, op te tree as voog en om by te dra tot die onderhoud van die kind.

Volgens subartikels (4) en (5) van die wet moet ‘n ouer of persoon wie optree as die kind se voog te alle tye die kind se eiendom en eiendomsbelange administreer en beveilig. Kinders moet ook bygestaan word in administratiewe, kontraktuele en ander regsgeleenthede of enige toestemming wat regtens vereis word gee.

Dit sluit toestemming in om in die huwelik te vestig, toestemming tot aanneming, die kind se vertrek of verwydering uit die land en toestemming tot die kind se aansoek vir ‘n paspoort of vervreemding of bewaring van enige onroerende eiendom.

Wanneer meer as een persoon voogdyskap van ‘n kind verkry, is elkeen van hulle behoudens artikel (5), enige ander wet of enige ander bevel van ‘n bevoegde hof tot die teendeel, bevoeg om onafhanklik en sonder toestemming van die ander enige reg of verantwoordelikheid wat spruit uit sodanige voogdyskap uit te oefen.

Die Kinderwet bepaal ook: “Die biologiese ma van die kind, hetsy getroud of ongetroud, het volle ouerlike regte en verantwoordelikhede. Indien die biologiese moeder van ‘n kind, ‘n ongetroude kind is wat nie voogdyskap van die kind het nie en die biologiese pa het ook nie voogdyskap oor die kind nie, is die voog van die biologiese moeder ook die voog van die kind”. Hierdie artikel is nie van toepassing ten opsigte van ‘n kind wie die onderwerp van ‘n surrogaatooreenkoms is nie.

Die biologiese pa van ‘n kind het volle ouerlike verantwoordelikhede en regte indien hy getroud is met die ma van die kind of as hy getroud was met die ma van die kind tydens die kind se konsepsie, geboorte of in enige stadium tussen die kind se konsepsie en geboorte.

Eulogia sê sy wil dit op elke ouer se hart druk dat hulle nie net die wet moet gebruik om hulle te verseker van hulle verantwoordelikhede nie, maar in eerlikheid teenoor hulself moet besef dat hulle kinders lewende wesens is wie deur God toevertrou is aan hulle om te vorm, te beskerm en te beveilig in die omgewing waar hulle groot word. Ouers moet alles in hulle vermoë doen om ‘n voorbeeld vir hulle kinders te wees in hulle gedrag, respek teenoor ander en in hulle daaglikse handel en wandel.

Aanstaande week gesels Eulogia oor die regte en pligte van ongetroude vaders.

Related Articles

Back to top button