Vyf mense sterf in verskeie botsings in Limpopo

Sedert verlede week is Limpopo se paaie weer ‘n slagveld met verskeie botsings wat die lewe van minstens vyf mense geëis het. In die nuutste voorval het ‘n bakkie en ‘n sedan Dinsdag trompop op die R101 net buite Mokopane gebots waarna die sedan in vlamme uitgebars en verkeersvloei erg ontwrig het omdat die pad …

Sedert verlede week is Limpopo se paaie weer ‘n slagveld met verskeie botsings wat die lewe van minstens vyf mense geëis het.
In die nuutste voorval het ‘n bakkie en ‘n sedan Dinsdag trompop op die R101 net buite Mokopane gebots waarna die sedan in vlamme uitgebars en verkeersvloei erg ontwrig het omdat die pad bykans twee ure gesluit was.
“Twee mense is dood en twee ernstig beseer, maar die presiese oorsaak van die botsing is nog nie bekend nie,” sê Kagiso Mootane, verkeerswoordvoerder van die departement van vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling.
Vroeër Dinsdagoggend is twee mense ernstig beseer nadat die bestuurder van ‘n Mercedes-Benz blykbaar beheer verloor en die voertuig op die Maserumulepad buite Matlala sowat 30 km buite die stad omgeslaan het.
Beide is volgens Mootane na die Matlala Hospitaal geneem waar hul vir geringe beserings behandel is.
Tydens ‘n botsing Saterdagaand op die N1 buite Mookgophong waarby vier voertuie betrokke was, is drie mense dood.
Mootane sê ‘n bakkie wat boumatriaal vervoer het, was blykbaar in ‘n noordelike rigting onderweg toe die bestuurder glo voor aankomende verkeer inbeweeg en teen ‘n Mazda sedan gebots het.
“‘n Isuzu-bakkie en Kia sedan was in ‘n sekondêre botsing betrokke toe hulle die aanvanklike botsing probeer vermy het,” sê Mootane. Drie ander mense is ernstig beseer.
Mootane sê die oorsaak van meeste botsings op die provinsie se paaie kan aan spoed asook roekelose en nalatige bestuur toegeskryf word.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Featured photo: Twee mense is ernstig beseer toe ‘n Mercedes-Benz op die Maserumulepad buite Matlala omgeslaan het. 

Een van die voertuie wat in Dinsdag se botsing op die R101 betrokke was, het aan die brand geslaan.
Twee mense is dood tydens ‘n botsing Dinsdagsaand op die R101 buite Mokopane.
Vier voertuie was betrokke in ‘n botsing op die N1 Mookgophong waarin twee mense dood is.

 

Exit mobile version