Local NewsNews

Polisie waarsku publiek oor watergevaar nadat drie verdrink

Weens die veranderende seisoene en warmer weer begin mense weer meer tyd in die buitelug by riviere en damme deurbring, maar die polisie waarsku opnuut teen watergevaar nadat twee lyke verlede week deur die polisie en Emergency Medical Services (EMS) se soek- en reddingseenhede uit die Flag Boshielodam verwyder moes word. Die derde persoon wat …

Weens die veranderende seisoene en warmer weer begin mense weer meer tyd in die buitelug by riviere en damme deurbring, maar die polisie waarsku opnuut teen watergevaar nadat twee lyke verlede week deur die polisie en Emergency Medical Services (EMS) se soek- en reddingseenhede uit die Flag Boshielodam verwyder moes word.
Die derde persoon wat verdrink het, se liggaam is nog nie gevind nie. Die polisie sou na verwagting vandag (Donderdag) die soektog hervat.
‘n Lid van die soek- en reddingseenheid sê vier mense het Saterdagaand die karkas van ‘n koedoe wat hul glo gestroop het op ‘n ou bootromp gelaai en die dam probeer oorsteek, maar die rompgedeelte het in die middel van die dam gesink.
“Een van die vermeende stropers het later die aand op die wal wakker geword en gaan hulp soek. Die eenheid het onmiddellik met die soektog begin en die eerste liggaam is Maandag uitgehaal met die tweede een wat Dinsdag gevind is.
“As gevolg van die groot hoeveelheid krokodille en vuil water kon ons glad nie duik om die derde persoon te soek nie,” sê die bron.
Met die Suid-Afrikaanse Weerdiens wat nog warmer toestande veral oor die noordelike dele van die land voorspel, verwag die polisie dat meer mense in die komende maande in gevaar kan verkeer wanneer hulle damme en riviere besoek.
Gedurende Desember en Januarie het ses jongmense binne tien dae in damme en riviere verdrink.
In Maart het Polokwane Observer berig oor vier jong mense wat in een dag in Limpopo verdrink het. Onder hulle was ‘n 25-jarige man wat in Giyani in ‘n swembad verdrink het. Hy was vermoedelik onder die invloed van alkohol.
In die ander voorvalle het twee tienerseuns in ‘n waterpoel in Mecklenburg en ‘n derde seun in die Steelpoortrivier verdrink.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê dit is nie net jongmense wat lafenis teen die hitte soek wat verdrink nie.
“Volwassenes gebruik alkohol wanneer hulle by die dam kuier en fratsongelukke gebeur vinnig. Ons kan nie die belangrikheid van veiligheidmaatreëls by damme en riviere en selfs swembaddens genoeg beklemtoon nie,” sê Otto.
Sy het ouers gewaarsku om toesig te hou oor hul kinders wanneer hulle swem en hulle oor die gevare van riviere en damme te leer omdat sommige strome steeds sterk vloei al ervaar die provinsie erge droogte.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto’s: ‘n Lugfoto van die toneel by die Flag Boshielodam waar drie mense Saterdag verdrink het. Die polisie se soek- en reddingseenheid is steeds op soek na die derde liggaam. Inlas: Die slagoffers het probeer om op die romp van ‘n ou boot die dam oor te steek.

Related Articles

Back to top button