Bosveld NewsNews

Gemengdereaksies oorkunstefees

Die fees, wat die Dienssentrum se grootste fondsinsamelingsprojek is, het vanjaar sterk onder die soeklig gekom...

MOKOPANE – Na hewige kritiek vanuit die gemeenskap oor die afgelope Kierieklapperkunstefees waar daar met mening ingeklim is oor onder meer die duur toegangsfooie, min stalletjies en die swak opkoms by van die kunstenaars se vertonings, het die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes en die Kierieklapperkomitee laat weet die fees was ‘n reuse sukses met ‘n rekordgetal feesgangers.

Die fees, wat die Dienssentrum se grootste fondsinsamelingsprojek is, het vanjaar sterk onder die soeklig gekom en daar is wyd in die dorp en op sosiale media gepraat oor die kwynende feesgangers, swak sekuriteit by die pretpark saans en die koue wat mense weggehou het om na die top kunstenaars te gaan kyk waarvoor die feeskomitee duisende rande opdok.

Kort na die fees het die nuwe bestuurder van die Dienssentrum, Wimpie Engelbrecht, aan Bosveld erken die koue het ‘n rol gespeel in die swak opkoms en dat daar opnuut besin gaan word oor aanstaande jaar se fees.

Stalletjie-eienaars met wie Bosveld tydens die fees gesels het, was dit eens die duur toegang belemmer hulle verkope. Vanjaar was daar ook aansienlik minder stalletjies en ooglopend minder feesgangers, maar die Dienssentrum en feeskomitee sê hulle is tevrede. Die ekstra dag het gehelp om getalle op te stoot.

Die Dienssentrum en Kierieklapperkomitee sê in ‘n verklaring: “Die goeie opkoms na die terrein en die produksies het bygedra tot die sukses waarvoor die feeskomitee dankbaar is.

“Die Dienssentrum wil aan die gemeenskap dankie sê vir die ongelooflike ondersteuning wat weereens daartoe gelei het dat die fees ‘n reuse sukses was.”

Hoërskool Piet Potgieter word bedank vir die gebruik van sy terrein en hulle samewerking wat daartoe bygedra het dat die Dienssentrum sy doelwitte kon bereik.

By navraag is aan Bosveld gesê die Dienssentrum betaal die skool elke jaar huurgeld om die fees daar te hou. Bosveld is daarop gewys dat daar meestal positiewe reaksie vanuit die gemeenskap na die fees ontvang is en dat die groot getalle besoekers oor die vier dae vanjaar ‘n wenfees verseker het.

Die sentrum en komitee bedank die borge vir hulle positiewe ondersteuning en sê daar is reeds begin met die reëlings vir aanstaande jaar se fees.

Voorstelle kan per epos gestuur word na die dienssentrum@lantic.net of besoek die sentrum in Dudu Madisharylaan.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button